Voedselveiligheid en natuurlike wysheid

Jun 2, 2025

“Kos is vir my Knowledge of Self” – Shihaam Domingo oor voedselveiligheid en natuurlike wysheid

Wanneer ek dink aan Wêreldvoedselveiligheidsdag, dan dink ek nie net aan kos wat veilig is om te eet nie – ek dink aan wie ek is, waar ek vandaan kom, en wat ek geleer het van die aarde onder my voete.

Vir my is die woord “kos” ook ’n afkorting van Knowledge of Self. As jy weet waar jy vandaan kom, dan weet jy wie jy is, en hoe om jou aan die lewe te hou. Dis hoekom ek glo dat kinders moet leer van kleins af – nie net hoe om te eet nie, maar hoe om te waardeer, te plant, te deel.

Ek het grootgeword in plekke soos Princess Vlei, Rondevlei en Zeekoevlei. My mense het met ons stapjies gedoen – die Ausies, die matriarge, het ons gevat veld toe, vlei toe, see toe. So het ons geleer van die plante, hulle medisyne, hulle seisoene. Jy moes weet wat wanneer opkom – soos Serangs in Junie, saam met die waterblommetjies. Die een vol vitamien C, die ander vol smaak. Saam maak hulle ’n bredie én hou hulle jou gesond.

Dis moeilik vir my om net een plant uit te lig. Daar’s die seevye – my kinderjare se lekkerkies in die veld. Jy’t dit geëet as jy honger was, en gebruik as jy ’n sweer in jou mond gehad het. As ’n baba tanne kry, dan gebruik ons daai plant op sy gams, of op mama se nipples as dit seer is. Dis medisyne wat jy sommer so in die veld kon kry.

Daar’s ook die wilde als (wild Artemisia) en wilde dagga – dis plante wat nou begin groei vir die koue seisoen wat kom, om jou respiratory system te versterk. En dan die olieboomplant – elke meisiekind in my straat het daai geken toe sy haar eerste period kry. Dis hoe ons geleer het, deur mekaar en deur die grond.

Ek sê altyd: praat met die plante wat met jou praat. En praat met die mense wat jy ken – die oumas, die aunties, die mense wat stories dra. Begin deur net een ding te plant. Iets wat jy mee connected voel, iets wat vir jou familie betekenis het. Dit is hoe jy leer.

As kinders weet waar hulle kos vandaan kom, weet hulle ook hoe om dit te groei – en hoe dit hulle liggame voed. Sommige plante is net medisyne in ’n spesifieke seisoen, en kan in ’n ander seisoen giftig wees. Dis hoekom dit belangrik is om daai kennis te hê, en te verstaan wat jy eet, en wanneer.

My wens is dat meer skole tuine sal hê – nie net vir kos nie, maar vir kennis. Dat ons kinders en ouers hande kan vat, en leer van die seisoene, van die grond, van wat die aarde gee. Deur groente te ruil, saatjies te deel en stories te vertel, bou ons weer gemeenskap – en plant ons kennis in die volgende generasie.