Foto 2

Die SBA se Storiesprojek, onder leiding van SBA-voorsitter dr. Sandra Prinsloo, het sedert 2015 ten doel om deur besoeke aan unieke omgewings individue se verhale uit die vergetelheid te ontruk en sodoende ons land se taal- en kultuurerfenis aan te vul en te bewaar. ’n Opnamespan het met dié doel voor oë die Cederberg-omgewing besoek en die stories van die mense van Eselbank en Heuningvlei gaan vasvang.

Met die stories as ’n viering van die unieke karakter van die Cederberg omgewing, was dit dus ’n logiese besluit om die bekendstelling van die Sederbergstories te koppel aan ’n ander viering van die Cederberg landskap – die Clanwilliam Veldblomfees.

Die video-installasie van Sederbergstories was van 25 Augustus tot 5 September by die Ou Tronk Museum in Clanwilliam te sien.

Besoekers kon tydens die fees deur middel van die videovertellings op reis gaan – al met Kerskoppas langs tot by Eselbank – en vir ’n oomblik die wêreld sien deur die oë van 8 storievertellers wat hulle intieme belewenisse uit vervloë dae deel.

Intieme gesprekke, plek-spesifieke humor en taal, asook uiterste weersomstandighede wat later ’n karakter binne die verhaal word, dra by tot die unieke eindproduk wat as historiese bron aan ander voorgehou kan word terwyl dit erkenning gee aan die gemeenskap in die kollig.

Wateridiome kry lewe in die mond van die spreker

Idiome word dikwels beskryf as die speserye van taal. Die SBA se multitalige idiomeboek, Ons almal drink van dieselfde stroompie, wat vroeër vanjaar die lig gesien het, is daarop gemik om die kleur en geur van taal en ook kultuurerfenis wat hand aan hand daarmee loop vas te vang. Om egter seker te maak dat hierdie netjies gebottelde speseryrakkie gebruik word, is daar besluit om ’n verklankte weergawe van die idiomeboek te skep om te wys hoe hierdie geure die spreker se palet ophelder in konteks.

Die bestaande boek is aangevul deur kort gedramatiseerde klankgrepe wat wys hoe die idiome in onderskeidelik Afrikaans, isiXhosa en Engels in die mond van die spreker lewe kry en is nou gratis beskikbaar op die webtuiste. Die verklanking is ter viering van Internasionale Geletterdheidsdag op 8 September bekendgestel.

Die veteraan-aktrises Thoko Ntshinga en Sandra Prinsloo was onder meer deel van die stemkunstenaars wat die vertolking van die verklankte tonele vir die idiomeboek behartig het.

Nie net is die klankopnames verrykende luistergenot vir die taalliefhebber nie, maar dit bied ook ’n praktiese en byderwetse invalshoek vir onderwysers wat lewe aan idiome wil gee tydens onderrig.

Klik hier om te luister na die kort gedramatiseerde klankopname van elke idioom en beleef die kleur en geur van taal.

Barnardstraat 78, Oakdale
Bellville, 7530

Onlangse nuus

Studiebeurs: Honneurs in Afrikaans

Laai aansoekvorm hier af
Lees meer

SBA Letterkunde Verering 2022

Dr Diana Ferrus Vir ‘n lank tyd het Diana Ferrus gedroom dat die tyd van vryheid van die ...
Lees meer

Drie dekades van bemagtiging deur Afrikaans!

Ons is byna aan die einde van 2022, wat ook die einde van die  Stigting  vir Bemagtiging deur ...
Lees meer
Scroll to Top