Vaselinetjie

Vaselinetjie: Salf vir die siel

Met Vaselinetjie, die bekroonde boek deur Anoeschka von Meck, wat binnekort weer op die planke gebrink gaan word, en ook op die silwerdoek gaan verskyn, neem ons ‘n #ThrowBack na die 2012-produksie wat deur staande ovasies in beide Kaapstad en Stellenbosch ontvang was.

Toe ek gelees het dat Anoeschka von Meck se bekroonde Vaselinetjie as toneelstuk by Spier Amfiteater op die planke gebring word, het ek gespring vir kaartjies. Ek was nie te seker oor die feit dat dit in die buitelug uitgevoer sou word nie en was as gevolg daarvan bang dat die intimiteit van die teater verlore sou raak – so dan ook die treffende boodskap van die roman. Vanaf die eerste minuut is ek egter verkeerd bewys. Ek is op ‘n warrelwind reis geneem saam met Vaselinetjie deur haar kinderdae en twee ure vlieg verby soos ‘n paar minute.

Vaselinetjie as toneelstuk en Vaselinetjie as roman verskil nie hemelsbreed nie. Deur die teksverwerking van Hugo Taljaard en regie deur Henry Mylne (7de Laan), is sekere tonele egter kort geknip om heel waarskynlik die tydsduur te verkort van die toneelstuk. Dit neem in sekere opsigte weg van die intrige aangesien sommige tonele, soos die verhouding van Vaselinetjie (Andrea Streso) en Texan (Werner Coetser), minder intens voorkom as in die roman. Dit is soms die probleem met toneelstukke wat verwerk word vanuit romans; die leser vorm ‘n meer persoonlike verhouding met die teks en beskou dan nie altyd die verhoogproduksie as voldoende nie. Hierdie kan toegeskryf word aan die leser se individuele manifestasie van die roman. Die bogenoemde is ook duidelik in Vaselinetjie; sommige tonele word as humoristies ervaar, waar dieselfde toneel in die roman op ‘n individuele vlak as meer ernstig ervaar sou word. Alhoewel dit, na my mening, nie as opsetlik humoristies uitgebeeld word nie, lag mens soms vir die ongemaklike en soms skokkende situasies soos die gebruik van kru taal en uitbeelding van sosiale kwessies soos prostitusie en geweld. Die gehoor beskou dit dalk aanvanklik as humoristies, maar word uit die teater vergesel met ‘n skuldgevoel wat hul herinner aan die erns van die kwessies wat aangespreek word, wat nie afgelag behoort te word nie.

Daar is geen verrassing in die feit dat Theodore Jantjies die Fiesta toekenning vir beste byspeler gewen het vir sy rol as Juice en Oupa Simon in die produksie nie. Sy veelsydige rolspel neem hom van ‘n kruppel ou man (Oupa Simon) tot ‘n gemene bendeleier (Juice) en beide rolle word oortuigend vertolk. Die sepiester-belaaide rolverdeling (Kim Cloete, Ingrid Paulus, Deon van Zyl) sorg vir kwaliteit rolspel wat dit duidelik maak dat hul eerder op die verhoog hoort as op die kassie. Karin Retief (Ballade vir ‘n Enkeling, Hoofmeisie) se vertolking van die rolle van Killer en Maud word ook outentiek voorgestel en sorg vir ‘n paar knop-in-die-keel oomblikke. Vaselinetjie se rol is ook oortuigend gespeel. Die enigste tekortkoming is dat haar Kaaps-Afrikaanse aksent nie sterk en oortuigend genoeg is nie, wat verwarrend kan wees.

Die eenvoudige dog funksionele stel en dekor sorg vir vinnige toneelwisseling. ‘n Paar stoele en tafels word in een toneel vinnig verander vanaf ‘n deur na ‘n bus en die verandering word effektief geïntegreer met die rolspel. Die kreatiewe gebruik van agtergrondgrafika as skepping van milieu sal ook aanklank vind by die oorheersende tienergehoor, en vergemaklik ook die vinnige verskuiwings van konteks.

Musiek en dans word op ‘n onvoorspelbare manier in die toneel ingebring wat aanvanklik die gehoor heeltemal omvergooi maar later deel word van die toneel op ‘n meer geïntegreerde manier. Die musiek en dans is ‘n goeie voorstelling van die idee dat kinderhuiskinders nie net altyd slegte tye het nie, maar dat hul steeds kinders is, en ook nou en dan op hul eie manier pret het. Die keuse van musiek is nie altyd gepas nie en kom soms as oudtyds en herhalend voor met ‘n tipe van vyftigerjare big band gevoel wat nie pas by die ouderdom van die karakters nie. Wanneer Karen Zoid se Deurmekaar egter speel in ‘n emosiebelaaide toneel, sorg dit vir ‘n hartroerende hoendervleis oomblik wat sonder die musiek nie dieselfde trefkrag sou hê nie.

Deur die outentieke voorstelling van kinderhuislewe word die kwessies wat daarmee gepaard gaan as boodskap effektief oorgedra. Die kyker word betrek in ‘n ander wêreld wat meestal onbekend is. Die Spier Amfiteater is heerlik om te besoek op ‘n warm somersaand en die toneelstuk verloor nie sy trefkrag omdat dit nie in ‘n tradisionele teater is nie. As gevolg van die ernstige kwessies wat aangespreek word en egte kru taal wat gebruik word, sal ek nie Vaselinetjie aanbeveel vir jonger laerskoolkinders nie. Hoërskoolkinders, kinders wat die boek gelees het en enigiemand anders behoort die toneelstuk te gaan kyk om kennis te maak met die harde lewe wat woed buite hul gemaksones.

Gebaseer op Vaselinetjie tydens die Woordfees, Spier Amfiteater Stellenbosch, 10 Maart 2012

 

Barnardstraat 78, Oakdale
Bellville, 7530

Onlangse nuus

SBA Letterkunde Verering 2022

Dr Diana Ferrus Vir ‘n lank tyd het Diana Ferrus gedroom dat die tyd van vryheid van die ...
Lees meer

Drie dekades van bemagtiging deur Afrikaans!

Ons is byna aan die einde van 2022, wat ook die einde van die  Stigting  vir Bemagtiging deur ...
Lees meer

Avonturier se boek oor Afrika in Afrikaans

‘n Ontmoeting met honger hiënas, rotte en vlermuise vir aandete en die eindelose natuurskoonheid van Afrika. Dit is ...
Lees meer
Scroll to Top