Die gebruik van intensiewe vorme kan enige gebruiker van Afrikaans se woordeskat aansienlik verryk. Bekende intensiewe vorme soos beeldskoon vorm gereeld deel van ons gesprekke, maar minder bekende vorme soos doodbekend moet gereeld hersien word. Hier is ‘n vinnige verduideliking van intensiewe vorme, met `n paar voorbeelde:
Intensiewe vorme is byvoeglike naamwoorde in die versterkende graad en word dus gebruik om ‘n byvoeglike naamwoord te versterk. Hierdie intensiewe vorme van die adjektief kry gewoonlik geen graadtrappe (soos met die trappe van vergelyking) nie. Daarom sal ‘n vorm soos yskoud, logieserwys nie *yskouer of *yskoudste kan wees nie.
(Aangepas uit Norme vir Afrikaans (1994) deur W.A.M. Carstens; Beter Afrikaans, Wikipedia en Quizlet)
Hier is `n paar bekendes, en `n paar minder bekendes:
- arm; brandarm
- af; morsaf
- blind; stokblind
- nat; papnat
- lam; boeglam
- duur; peperduur
- naak; poedelnaak
- hard; kliphard, ysterhard, keihard
- soet; stroopsoet
- suinig; vreksuinig
- wyd; wawyd
- bang; siekbang, doodbang, haasbang
- bitter; galbitter, aalwynbitter
- broos; seepbelbroos
- blou; potblou, erdblou
- fyn; haarfyn, ragfyn
- grou; loodgrou
- jammer; doodjammer
- krom; hoepelkrom
- lekker; smullekker, kraaklekker
- nodig; broodnodig, hoognodig