Die Woeker met Wiskunde-konferensie wat jaarliks binne ’n geografiese fokusgebied van die SBA aangebied word, bied presies wat die naam sê: dit inspireer onderwysers om met nuwe ywer die wiskundeklaskamer te betree en leerders behoorlik te laat woeker met die ontwikkeling van vaardighede op dié terrein.
Op 26 Oktober het 89 onderwysers, verteenwoordigend van grade R tot 9, op Springbok bymekaar gekom vir hierdie geleentheid. Nuweling opvoeders sowel as gesoute wiskunde-onderwysers was dit eens dat die dag ’n totale kopskuif rakende wiskunde-uitdagings in die klaskamer teweeggebring het.
Die daglange konferensie is daarop gemik om kwaliteit opleiding in Afrikaans deur ervare spesialiste met bewese ervaring aan onderwysers te bied. Dit word gedoen deur praktiese sessies wat fokus op inhoud wat dadelik in die klas geïmplementeer kan word.
Die insluiting van opwindende hulpmiddels om leerders se leergierigheid te prikkel en konsepte prakties te onderrig, is vir bywoners een van die hoogtepunte. Bywoners ontvang ook van hierdie hulpbronne om terug te neem na hul eie klaskamer om sodoende die nuut verworwe kennis en strategieë deel van hul eie aanbieding te kan maak.
Prisoniersdrama
Tydens die beplanningsfase van die SBA se projekte in die Kaapse gemeenskap van Ocean View, een van die SBA se geografiese fokusareas vir 2021, was dit onvermydelik om die narratief van dié gemeenskap na te spoor – die stories wat deur ander oor die omgewing vertel word, maar ook die stories wat deur die gemeenskap self vertel word. En net hier is die aandag van SBA-voorsitter en teaterlegende, dr Sandra Prinsloo, gegryp deur die komplekse uitdagings wat die gemeenskap in die gesig staar rondom integrasie van vrygelate gevangenes met hul terugkeer na hul eie omgewing.
“Ons het deur gemeenskapslede se vertellings beleef hoe families uitmekaar geskeur word deur misdaad en bendebedrywighede: broer teen broer, neef teen neef, kinders teen pa’s.” Desperate individue wat voor ’n toe deur staan.
Volgens dr Sandra Prinsloo was dit net ’n logiese besluit om deur middel van outentieke stories ’n narratief te weef om hierdie gemeenskapsdilemma te beskou. “’n Mens kan nie iemand se gedrag verander as jy nie hulle harte en koppe verander nie, en teater is vir my die sterkste wapen wat ’n mens het om dit te doen.” Die resultaat: ’n gemeenskapsteaterproduksie.
Verkenningsbesoeke en navorsingsgesprekke om die essensie van hierdie verhale te kan begin begryp, het vir Christo Davids as inspirasie gedien vir die skep van die toneelstuk The Ballroom Boy.
In die bekwame hande van regisseur Nolan Africa het hierdie verhaal lewe gekry en kon dit deel word van ’n groter raamwerk waarbinne die opvoering aangewend is as ’n spieël waarin elke teaterganger homself moes beskou en agterna sy gewaarwordinge kon konfronteer tydens begeleide gesprekke rondom die belewenis, gefasiliteer deur ’n vennootskap met Alternatives to Violence Project.
Met hierdie teaterinisiatief van die SBA is die fokus op sosiale en maatskaplike ontwikkeling. “Die behoefte is so groot vir mense in hierdie gemeenskap om heling te kry, en ek dink deur teater kan mens dit doen – of die deur net ’n bietjie oopmaak dat mense kan sien hulle kan deur hierdie deur gaan na ’n beter plek toe. ’n Mens kan mense nooit dwing nie; jy kan hulle nie oortuig of oorreed nie, maar jy kan hulle ’n kykie gee van wat moontlik is,” aldus dr. Sandra Prinsloo.
3 vrae aan regisseur Nolan Africa oor die prisoniers-dramaprojek
Regisseur Nolan Africa se uitgebreide ervaring in interaktiewe en opvoedkundige teater en ’n meestersgraad in Dramaterapie aan die Universiteit van Witwatersrand, het hom die ideale kandidaat gemaak om die teks van The Ballroom Boy met die nodige sensitiwiteit aan te pak en die geleentheid vir sosiale gesprekke te ontsluit. Ons het met hom gaan gesels oor sy benadering.
Was daar iets spesifiek aan hierdie teks of projek wat jou aandag getrek het toe jy genader is om as regisseur op te tree?
Die feit dat die storie op werklike navorsing gebaseer was, het my aangetrek. Ek was verheug om te hoor dat die projek ook gemeenskapswerkwinkels insluit, aangesien juis dít volgens my die manier is waarop projekte ’n impak maak. Dit is belangrik om ’n geleentheid te skep waartydens die stem van die gemeenskap gehoor kan word en om dan die behoeftes wat op hierdie wyse verwoord word aan te spreek, eerder as om te aanvaar ons weet watter tipe intervensie in die gemeenskap nodig is.
Wat was die uitdagings wat jy ervaar het in die aanpak van hierdie projek?
Ek onthou hoe ek na video-insetsels op Youtube gekyk het oor bendes in Kaapstad nadat ek die geleentheid aanvaar het om The Ballroom Boy se regie te behartig. Sommige van hierdie video’s het my hart vinniger laat klop. Dit was op hierdie punt wat ek die bevestiging ontvang het dat alhoewel hierdie werk intimiderend en uitdagend is, dit so nodig is. Wat ek as bedreigend beskou en vrees by my skep, is die daaglikse realiteit waarmee soveel mense saamleef. En iets moet voortdurend hieraan gedoen word.
Wat hoop jy is die uiteinde van hierdie opvoerings binne die betrokke gemeenskappe?
Ek hoop dat mense die waarde van lewe sal begin insien en respekteer. Ek hoop dat bendelede nie onskuldige individue as teikens vir gewelddadige aksies sal sien nie. Ek hoop dat diegene wat nie in bendes is nie, sal fokus op geleenthede wat vir hulle ’n eerbare bestaan kan besorg, en ek hoop dat diegene uit bevoorregte gemeenskappe sal besef dat ’n sagte woord kan aanmoedig en skerp woorde ’n siel kan knak.