SBA se rondreisende chemie-werkwinkel op Kirkwood
“Om Chemiese Wetenskap as ‘n vak aan te bied is soms moeilik, maar met dié werkwinkel het ek vandag geleer hoe om dit maklik te maak en om dit interesant te hou vir die leerders.”
Só het Shirley Cook, ‘n onderwyser by La Trobe primêre skool in Enon¸ Saterdag na afloop van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) se Chemie-werkwinkel gesê.
Cook was een van sowat 20 onderwyser van die Oos-Kaap wat die werkwinkel in Kirkwood bygewoon het.
Die rondreisende werkwinkels word aan spesifiek laerskoolleerkragte in samewerking met SUNCOI (die Universiteit Stellenbosch se Chemie-uitreikingsinisiatief) aangebied.
Die onderwysers was vroeg uit die vere en in hul wit jassies om die praktiese werkwinkel by te woon. Hulle het altesaam agt praktiese eksperimente met huishoudelike middels soos kookolie, asyn, water, koekmeel en koeksoda, gedoen.
Dr Rehana Malgas-Enus, ’n senior lektor by die Departement Chemie en Polimeerwetenskap van die US se Fakulteit Natuurwetenskappe, het die werkwinkel aangebied. Sy is deur
Jabu Lukhele, wat ook verbonde aan dieselfde department is, ondersteun.
Malgas-Enus sê hulle het baie uitgemis gedurende die Covid-19 pandemie. “Vanjaar was ons vasbeslote om by ons doel en verbintenis te hou.
Die chemie-werkwinkel in Kirkwood was die vierde een vir die jaar. Die eerste een is in Kranshoek in Plettenbergbaai gehou wat gevolg is deur een in Atlantis en nog een in Springbok, Noord-Kaap.
“Al die werkwinkels was baie suksesvol. Ons beskou dit as ‘n sukses as die onderwysers weer passievol is oor die vak en uitsien om die praktiese eksperimente na die klaskamer te neem.”
Wayne Basson, ‘n onderwyser by Mistkraal R.C. Primereskool in Kirkwood het die SBA en Suncoi geloof vir hul werk. “As ek dit so baie geniet het, sal die kinders dit netso geniet. Ek sien uit om die eksperimente in die klaskamer met die leerders te doen.”
Die SBA en Suncoi het ook 94 matrieks van verskeie skole in die Nelson Mandel- metro wat Fisiese Wetenskap as vak het, na die Nelson Mandela Universiteit se Wetenskap-labarorium genooi. Die lab besoeke is ook deel van die SBA se chemie-projek en gee die leerders ‘n voorsmaak van wat hulle in die chemie studieveld kan verwag.
Dit was die leerders se eerste keer in ‘n regte laboratorium.
Gerswin Cupido, projekte-organiseerder van die SBA sê die Chemie-projek het op ‘n hoë noot geëindig. “Dit was ‘n absolute belewenis om te sien hoe die leerders hulself met laboratorium besoek geniet het. Die werkwinkel in Kirkwood was ook baie goed ontvang deur die onderwysers.”