Dr Diana Ferrus
Vir ‘n lank tyd het Diana Ferrus gedroom dat die tyd van vryheid van die pen en van jou stem sal aanbreek, maar selfs voor dit het sy haar gedagtes en gevoelens neergepen te midde van die vrees dat dit haar agter tralies kon laat beland.
Dié droom is bewaarheid toe die apartheid-era in die land “beëindig” is. Nou gebruik Ferrus haar stem en skryftalent vrylik om kwessies aan te spreek en om jong skrywers te bemagtig.
Dit is om dié rede dat die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans besluit het om die digter vir haar literêre bydrae tot die samelewing te vereer. Die inisiatief is deel van die SBA se Letterkunde Vererings-projek onder leiding van Prof. Steward van Wyk, ‘n direksielid van die SBA en verbonde aan die Departement Afrikaans en Neerlandistiek van die Universiteit van Wes-Kaapland. “Die direksie van die SBA het besluit om literêre ikone in hul gemeenskappe te huldig en te vereer om sodoende plaaslike mense die geleentheid te gee om die prestasies van sodanige figure te eien en te vier. Dikwels vind die erkenning van skrywers plaas by sentra in die groot stede en kry die mense wat help vorm het aan die denke en uitsette van skrywers nie die geleentheid om hulde te bring en self ook erkenning te kry vir hul aandeel aan die vorming van ‘n skrywer nie.”
Lees hier die huldigingswoord deur Valda Jansen soos gelewer op 9 Desember tydens die SBA se letterkundeverering van Diana Ferrus.
Diana Ferrus en die onrusbarende tye
‘n Huldiging deur Valda Jansen
Inleiding:
As jy my sou vra waar ek Diana Ferrus die eerste keer gesien het of ontmoet het, kan ek jou nie sê nie. Ek weet nie.
Sy was maar net altyd daar.
Jy weet van haar nog voor jy haar sien.
Sy is soos die dans van ons suster. Sy is Mengelmoes. Sy is Sara Baartman én sy is Bientang.
Sy is loud, sy is groot, wanneer sy by ‘n plek instap wéét almal in die vertrek sy het opgedaag, sy is nou hier.
Sy is die first lady van podium poësie. Sy is ‘n diva. En sy het uitgestyg.
Ons kom van ver af, ook ek en Diana Ferrus. Ons kom uit die tyd toe niemand van ons wou weet nie.
‘n Tyd toe ons buite die kring gesit het. Toe hulle nie na ons wou luister nie.
Ons moes groter word as die lewe self. En dit het Diana Ferrus inderdaad gedoen.
Dié dag in ‘n verre land toe sy by ‘n venster gestaan en die verdriet van ‘n ander, eensame vrou aan haar eie lyf gevoel het. Hierdie verdriet het Diana in woorde en gevoelens omgesit en ons almal daarby betrek. Want wié kan onbetrokke staan as sy begin voordra.
En nou is ons in die seisoen van huldigings en huldeblyke.
‘n Muur het geval
Wat Diana Ferrus betref, is daar baie dinge wat ek nie hoef te sê nie; wat ek jou nié hoef te vertel nie.
ek hoef nie vir jou te vertel van Sara Baartman nie.
of van die ere-doktorsgraad nie.
of van Mengelmoes Digters of Diana Ferrus-uitgewers nie. Of van die talle slypskole en werkswinkels en optredes nie.
Dis alles daar. jy kan haar naam gaan naslaan en dis alles daar. Op die wêreldwye web. Vir ewig.
Daar was ‘n tyd toe dit alles nie vanselfsprekend was nie, toe hierdie name en prestasies en goeie werke geen of min erkenning gekry het.
Eendag, lank gelede, nog voor Sara Baartman huis toe gebring is, bel Diana my en vra of sy ‘n kort onderhoud met my kan doen vir haar tesis oor vroueskrywers en so.
Maar Diane, ek is nie ‘n skrywer nie.
Ja man, jy is.
Okay, nou kom maar.
En toe ek die dag my voordeur vir haar oopmaak, sê sy: “Ai man, ek is so besig by die werk, ek het nie baie tyd nie, dis my middagete-tyd, dankie dat jy my kan sien.” Alles sommer so in een asem.
En ék antwoord: “Dan is jy seker honger; ek het oorskietkos van gisteraand wat ek kan warm maak.”
En sý sê: “ Ja man, skep, laat ons eet!”
En ek het die tafel gedek en ons het saam geëet en gesels en Diana het alles opgeskryf.
En van hierdie gesprek, meer as 20 jaar gelede, onthou ek veral een belangrike ding.
Rondom hierdie tyd het ‘n oudkollega, ‘n onderwyser, my op ‘n dag vertel dat ‘n gedig van my in die matriekvraestel opgeduik het. Ek was verstom en het nie geweet hoe om te voel of wat om te dink nie.
Maar toe Diana so saam met my aan die etenstafel sit, het ek dit uitgeblaker: Diane, hulle het my gedig in die matriekvraestel gesit!
Haar oë het onmiddellik vol trane geskiet.
En toe ek Diana se reaksie waarneem, het dit my toestemming gegee om ook te huil. Eers toe sý huil, kon ek dit aan myself erken: ja, dit is ‘n groot ding.
Twee gemarginaliseerde skrywers eet tesame aan die oorskiet van die vorige aand se kos. En ons het instinktief geweet wat die kwessie van die matriekeindeksamenvraestel eintlik beteken het: daar is deur ‘n muur gebreek; nog ‘n muur het geval.
Maar dit was nie volbring nie; ánder mure het gewag.
Nie vanselfsprekend nie
Wat vir my uitstaan wanneer ek die naam Diana Ferrus hoor, is dit die beeld van ‘n vrou wat in ‘n verre land voor ‘n venster staan en huis toe verlang. En daarmee saam, ‘n ander landgenoot van lank gelede se eie eensaamheid aanvoel en dit in haarself opneem, kanaliseer, tot dit op papier uitmond en keer op keer voor gehore opgevoer word. So gevoelvol soos net sý kan.
Diana Ferrus se skryfwerk kom uit die tyd toe dit nog nie vanselfsprekend was dat haar woorde erkenning sou kry nie;
toe dit geensins vanselfsprekend was dat sy gehoor sou word nie;
dat sy na geluister sou word nie.
Nietemin het sy geskryf en aangehou met skryf.
Sy besef ook die verantwoordelikheid van haar talent; sy het dit haar roeping gemaak om ander, wat nie so sonder skroom is soos sy nie, aan die hand te neem en respekvol te lei en by te staan terwyl hulle as skrywers ontwikkel.
By ‘n huldiging soos hierdie is dit goed om weer stil te staan en te onthou hoe dit vroeër was. Dat om ernstig opgeneem te word en in literêre kringe opgeneem te word en na woordfeeste en allerhande byeenkomste genooi te word, was nie altyd so vanselfsprekend soos dit vandag is nie.
Ons moet soms terugkyk en onthou hoe dit was, nie so lank gelede nie.
Dink ook aan wat dit gekos het vir diegene wat die eerste tree gegee het, wat die paaie gelyk gemaak het.
Daar is vele gesigte. En een daarvan is Diana Ferrus.
Die Suid-Afrikaanse letterkunde is inderdaad bevoorreg: ons het nie net ‘n Antjie Krog nie, ons het ook vir Diana Ferrus.
Hulle is tydgenote.
En ons is nie meer apart nie, danksy hulle twee.
Hier is twee formidabele vroue wat ‘n verhoog kan vol staan.
‘n Voorbeeld vir die res van ons.
Hulle leef hulself uit, oorskry hul eie grense.
Maar doen dit nie alleen nie.
Die onrusbarende tye
Daar is egter ook onrusbarende tekens dat daar wéér ‘n wig tussen skrywers gedryf word. Asof ons nie op gelyke voet is nie.
Debatte, gesprekke, boekbesprekings word nog meestal deur wit gedryf. Wit resenseer die boeke. Wit mans is in beheer van boekeblaaie.
En as jy, as swart Afrikaanse skrywer, sê jy wil nie net altyd gevra word om boeke deur swart Afrikaanse skrywers te resenseer nie, word jy eenkant toe geskuif.
Dan kry jy glad nie meer boeke om te resenseer nie, want jy het mos nou gekla.
Dis hoe dit destyds ook was toe swart Afrikaanse skrywers hul opgang begin maak het.
Daarna was daar ‘n kortstondige tydperk van samewerking en uitreiking en verdraagsaamheid. Maar dinge is nou amper weer terug waar dit destyds was.
Híérdie is die onrusbarende tye.
Daar is tekens dat andersins gesaghebbende mense wat gewoonlik groot respek afdwing, swart Afrikaaanse skrywers al hoe meer verstoot.
Daar is gevaartekens waarop ons bedag moet wees; ons moet daarop voorbereid wees dat ons uitgebuit kan word.
As jy voor ‘n fees skielik gevra word om deel te neem, maar jy word gemaan: daar is nie baie tyd nie, jy moet asseblief vinnig antwoord, sommer vandag nog.
Jy lees dan tussen die reëls en jy weet onmiddellik wat gebeur het. Al die skrywers en deelnemers is gevra, daar is getalle opgetel en o wee, ons het nie genoeg van “hulle” nie, vir wie kan ons gou nog iewers indruk?
Dán weet jy hoekom jy nou vinnig ge-WhatsApp is.
Die tekens is daar. Ons moet bedag wees daarop, ons moet oop oë deur hierdie skrywerslewe gaan. Moenie mooi woorde altyd vir soetkoek opeet nie.
Jy mág nee sê. Jy móét nee sê indien iets jou ongemaklik maak.
Dis toekom ons dankbaar moet wees vir ‘n ikoon soos Diana Ferrus, want ons kan na haar toe hardloop, ons kan vir haar gaan sê as ons te na gekom word; as ons ‘n ervaring nie verstaan nie. Sy is deur die meule. Sy sal kan raad gee.
Die geskiedenis van die Swart Afrikaanse skrywersimposium wat elke 10 jaar by UWK gehou word, loop hand aan hand met die skrywerslewe van iemand soos Diana Ferrus. Met die oog op die volgende simposium wat in 2025 gehou gaan word, is dit belangrik dat ons oor hierdie dinge nadink en met mekaar daaroor praat.
Die heel eerste simposium het amper 40 jaar gelede plaasgevind. Dat iemand soos Diana hierdie pad geloop het en nog steeds diep voetspore laat, is iets waarop ons almal trots kan wees.
Wat sou Diana Ferrus vandag aan die jonger geslag skrywers wou sê? Ek verbeel my sy sou wou waarsku. Ek dink sy sou tog wou maan: oppas vir die wolwe. Wees versigtig vir diegene wat vir jou heuning om die mond smeer en dan respekloos teenoor jou optree.
Want ons, die swart Afrikaanse skrywer, bevind ons vandag weereens in ‘n posisie waarin ons uitgebuit en gebruik kan word.
Wees versigtig vir die volgende:
Dat ons nadergehark word slegs om kwotas te vul.
Dat ons opinies gevra word slegs as dit gaan om ‘n ander swart Afrikaanse skrywer.
Dat gerespekteerde mense in die breë skrywersbedryf ons anders behandel as wat wit skrywers behandel word: met minder respek, asof ons geen gesag het nie, asof ons nie op dieselfde vlak is nie.
Want dit alles gebeur nog steeds.
Afsluiting
Dit hoef nie so te wees nie. Dit mag nie so bly nie. Tye het verander.
Die laaste 40 jaar of so is ons simposiumgangers.
Ons is nou ook deel van die Paulethuis-generasie, Jakes Gerwel se nalatenskap: ‘n huis van vele vaandels waar iedereen omarm word.
Diana Ferrus is iemand wat nie altyd onder ‘n vaandel was nie. Sy is nie altyd deur ander, deur ‘n organisasie, beskerm nie.
Sy het self ‘n beskermer geword; haar naam is ‘n vaandel vir diegene wat onseker is, wat nie altyd weet hoe en wat nou nie.
Sy is ‘n kruk en ‘n kruik.
Sara Baartman is een van ‘n lang lys name van vroue wat onsigbaar gemaak is. Diana is die een wat dit raakgesien en raak gevoel het. Daarom kon sy ‘n kragtige gedig skryf wat harte aangeraak het. Maar sy het nie daar opgehou nie. Tot vandag toe nog is sy ‘n mentor, ‘n voorloper, vir ander.
Die jongmense wat vandag skryf, het ‘n groter voordeel as wat ons destyds gehad het toe óns nog jonk was.
Ons is aan ons lot oorgelaat.
Daar was niemand om ons te help om te verklaar: ‘ek is ‘n skrywer’ nie, of ‘ek skryf’, of ‘ek wil ‘n skrywer word’ nie.
Maar ek en Diana was gelukkig; ons het mekaar gehad.
Onlangs berig Die Burger oor die Musiekindaba-slypskool waar Karen Zoid ‘n groot waarheid beklemtoon het: jy moet self bepaal wie jy is as kunstenaar, anders gaan ander mense dit vír jou doen.
Dit is ‘n waarheid wat Diana Ferrus ook uitleef.
Sy is wie sy wíl wees.
Sy oorskry haar eie grense. Daag haarself uit en help ander om dieselfde te doen. Sy steek haar hand uit en help ander om óók op die verhoog te kom.
En daarvoor loof ons haar.
Diana Ferrus is vele dinge. Maar sy is veral die vrou van die hartlike lag.
Sy lag luid.
Jy kan nie anders as om dit te hoor nie.
Haar lag is gul. Sy hou nie terug nie.
En so gul soos haar lag, so vrygewig is sy met bystand en hulp en aanmoediging.
Sy help die wat hulp nodig het, sy sit hand by, sy skep geleenthede.
Sy breek mure af, sy skop vooroordele eenkant toe, sy gaan waar ander te bang is om te gaan.
En as ons in Diana se oë kyk, dan sien ons daardie wete daar: die mure wat stukkend lê agter haar.
En ons sien ook dit was nie maklik nie.