SBA bring bemagtiging deur handvaardigheid-projek
Die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) het vanjaar ’n nuwe toevoeging tot sy projekte. Die Handvaardigheidprojek is ’n praktiese werkswinkel waar sowat 185 Noord-Kaapse leerders geleer sal word om self ’n voëlvoerder te bou en te bemark. Die werkswinkel sal leerders blootstel aan nuwe geleenthede, hul entrepreneursgees aanmoedig en hul vaardighede ontwikkel.
Die drie skole wat by die projek sal baatvind is, Hoërskool Okiep, Hoërskool Garies en Hoërskool Nababeep. Die graad 9-leerders van die drie skole sal tydens ’n daglange werkswinkel die handwerkprojek voltooi en ook lesse kry oor hoe om die finale produk op sosiale media te bemark.
Die tegniese gedeelte van die projek word deur Ngwedi Molalatladi trading as Northern Cape Arise, behartig. Melvina Mason-Engelbrecht, die uitvoerende hoof van die maatskappy sê hulle sien uit na die geleentheid.
“Ons gaan die kinders van die dorpies toerus met vaardighede sodat hulle verantwoordelikheid vir hul eie welvaart kan bewerkstellig. Ook wil ons help om hul brein te stimuleer om uit die boks te dink.”
Volgens Engelbrecht is die doel van die projek om onafhanklike en volhoubare jong entrepreneurs te skep wat minder afhanklik van ander sal wees.
“Op die platteland bly werkloosheid en armoede aan die orde van die dag. Hierdie wonderlike inisiatief van die SBA leer ons kinders die tegniek om hul eie visse te vang pleks van net ’n vis ontvang. Só leer hulle ook om vir hulself te sorg en om ’n besigheid te bedryf.”
Die tweede been van die werkwinkel wat sosiale media aktivering, finansiële geletterheid en die bou van belanghebbende verhoudings insluit, word deur Labit aangebied.
Ivan Swartz, hoof van Labit, sê dit is ’n absolute voorreg om die gedeelte namens die SBA aan te bied. “Dit is ’n groot geleentheid vir Labit om in jongmense se lewens in te spreek deur hulle toe te rus met basiese entrepreneurskapsvaardighede.
“Die enigste manier om werkloosheid in Suid-Afrika werklik effektief en volhoubaar aan te spreek en ’n verskil te maak is om die jeug te aktiveer en te mobiliseer. Hulle is die antwoord en kan die verskil wees.”
Volgens Swartz bied entrepreneurskap die geleentheid aan elke gewillige en leergierige individu om deur harde werk hul omstandighede en hulle toekoms te verander.
“Ons sien met verwagting uit en is die SBA vele dank verskuldig om dit saam aan te pak. Ons vertrou dat dit moontlik die weg kan baan vir vele sulke potensiële vennootskappe in die toekoms.”
Dr. Niel le Roux, hoof van die SBA, sê die organisasie is baie opgewonde oor die nuwe projek. “Enige geleentheid wat werkskepping nou en in die toekoms kan help, is ‘n belegging in die vooruitgang van Suid-Afrika.”