Die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) se gekombineerde Afrikaans- en isiXhosa-strokiesprentavontuur, Robbie die Rowwe Rot/Umabuzi Ogadalala, kan ook in animasieformaat gekyk word.
Dié eg Suid-Afrikaanse verhaal, wat handel oor die unieke avonture van ’n rot van Mitchells Plain, is op 28 April, op die tweede dag van die Suidoosterfees, bekendgestel. ’n Groep leerders van die Laerskool Delft en Langerugskool in Worcester het dié besonderse geleentheid bygewoon. Van die SBA se direksielede was ook teenwoordig.
Die verhaal van Robbie kom uit die pen van die Deense skrywer, Klavs Skovsholm. Sjaka Septembir en Sivuyile Mazantsi het die boek vir Suid-Afrikaanse gehore aangepas en vertaal. Die strokiesprentstyl-illustrasies deur Isabelle Grobler poog om leerders aan verskillende genres van storievertelling en lees-vir-genot bloot te stel en sodoende ook ’n bydrae tot geletterdheidsontwikkeling onder die jeug te bring.
Die boek is deur Septembir in ’n animasiefilm omskep. Carlo Daniels, ’n jong akteur van Mitchells Plain, het die stem van Robbie verskaf. Met die bekendstelling van die animasieprent by die Suidoosterfees het Daniels gesê: “Ek het dit geniet om ’n rot te word vir die animasieprent. Dit was fun.”
Daniels het die leerders bemoedig. “Ek wil julle motiveer dat die woorde op die blaaie lewe kan kry. Robbie is net ’n voorbeeld van hoe ’n storie lewe kan kry.”
Kliek hier om die animasieprent te kyk: Robbie die Rowwe Rot