(Lees die volledige resensie op Woorde Wat Weeg)
Resensent: Joan Hambidge
‘n Digkuns bestaan nie in wese uit digters nie, maar uit gedigte, wat in gesprek tree met verslike geesgenote.
J. Hillis Miller
Hierdie Namibiese digter se vorige bundels heet: Geknipte naelstring (2001), Tussen wysvinger en duim (2005) en Vlerke vir my houteend (2010). Die jongste bundel se titel is Skadu oor die sonwyser.
Die verhouding met die biologiese moeder en die aangenome moeder (en hiermee inbegrepe die verhouding tussen taal en die moederbuik), is al onder die loep geneem in sy vorige bundel. Lombard skryf aangrypende gedigte oor die dood soos hierdie klein vers opgeneem in Geknipte naelstring:
geen
boom
steek ’n gat
so grou
in die lug
soos ’n
sipres
oor
die
oop
graf
van
’n
kind (62)
’n Digkuns bestaan nie in wese uit digters nie, maar uit gedigte, wat in gesprek tree met verslike geesgenote, het J. Hillis Miller by geleentheid opgemerk. Gedigte het as’t ware ’n lewe van hul eie. Ook Neruda en Cussons beaam dit digterlik.