Onderwyserhulp: Grondslagfase
Dis seker onnodig om hierdie twee webtuistes bekend te stel, maar vir die wat nie weet nie, wees ingelig! Daar is `n magdom van inligting op die internet, maar dit is moeilik om kwaliteit hulpbronne in Afrikaans te kry wat verniet is. Grondslagfase-onnies het hul hande vol met boeke merk, lesse voorberei, sosiale probleme van leerders en klomp ander dinge – waar moet julle tyd kry om nog oorspronklike hulpbronne te maak? Hier is iets om jou lewe te vergemaklik.
Vir die beginner-onderwyser is hierdie twee webtuistes van kardinale belang. Op universiteit word jy tot ‘n mate voorberei vir wat in jou klas van jou verwag word, maar die dag wanneer daardie tjokkertjies in jou klas hardloop kan jy maar vir ‘n rukkie totsiens se vir jou vrye tyd, ook darem net in jou eerste jaar van klasgee. Jy het alles nodig van flitskaarte tot coke-doppies wat gebruik word as tellers! Sekere skole het al hierdie hulpbronne, maar meeste van die tyd moet jy alles van niks af opbou. Niks kan jou voorberei vir al die klein dingetjies wat jy sal benodig soos hierdie oulike twee webtuistes nie!
Juffer se Blog
Juffer se blog is `n skatkis van inligting wat jou vir ure kan besig hou. Hierdie blog is nie net vir onderwysers nie, maar ook baie nuttig vir ouers. Dit is gefokus op graad R – 3, met tonne drukbare inligting, werkkaarte, raad, idees, kontakbesonderhede van kenners in velde van ADHD en vele meer. Indien jy vashaak met dinge soos beleidsdokumente en ANA-toetse kan jy ook daar gaan inloer vir raad en voorbeeldvraestelle. Teken gerus in op hierdie webtuiste se nuusbrief en gaan like dit op Facebook – jy sal nie spyt wees nie.
Sparklebox (Afrikaans)
Sparklebox bevat duisende drukbare hulpbronne wat in verskillende kategoriee ingedeel is. Wanneer die Suid-Afrikaanse vlag vertoon word, weet jy dat dit in Afrikaans beskikbaar is. Jy kan alles vind van muurkaarte tot veranderbare naamkaarte. Hierdie is ‘n moet-he en ‘n ware tydbespaarder vir enige Grondslagfase-onderwyser.