(Lees die volledige onderhoud op BooksLIVE)
Francois Smith is ‘n gevestigde, betroubare en gerespekteerde naam in die Afrikaanse boekbedryf.
Hy het al verskeie hoede gedra – skrywer, vertaler, redigeerder, en keurder om net ‘n paar te noem – en beywer homself sedert Januarie vanjaar as dosent by Kovsies se Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans waar hy klasse in prosa en kreatiewe skryfkunde aanbied. Sy kortverhale het al in drie NB-bundels verskyn: Kosblik, Skarlakenkoors en Bloots.
Smith se debuutroman Kamphoer word geloof as een van die sterkste debute nóg in Afrikaans en is verlede maand ingesluit op die kortlys vir die jaarlikse UJ-debuutprys.
Eerstens, baie geluk met jou benoeming vir die UJ-debuutprys. Wat beteken dit vir jou as skrywer om die kortlys te haal?
Ek bly nog altyd dankbaar oor die ontvangs van die boek, en enige vorm van erkenning is vir my waardevol. Maar ek sal ook nou nie maak asof ek nie teleurgesteld was dat ek dit nie gewen het nie. Vir ʼn kort rukkie was ek wel bekaf.
Waarom is literêre pryse nodig, en hoe dink jy beïnvloed dit lesers?
Skrywers gedy op erkenning, dit het ek nou aan eie bas gevoel, al moet ʼn mens maar nugter bly dink oor enige lofprysing. Op ’n heel praktiese vlak het skrywers elke ekstra sent nodig wat hulle kan kry, bloot om te kan skryf en aan te hou skryf.
Ek is nie seker hoe toekennings die Afrikaanse boekmark raak nie, of dit byvoorbeeld dieselfde hupstoot vir verkope gee as die Booker. Ek het ʼn spesmaas dat die algemene leserspubliek dubbelsinnig daarop reageer: Hulle wantrou professore se smaak, maar hul sal daardie professore (of hul aanprysings) graag in die openbaar aanhaal.