Nelmari-en-Athina-1024x768

Die skool is uit vir 23 leerders van regoor die Wes-Kaap wat vir vier jaar deel was van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) se Toekomsprojek. Dié jongmense is gelukkig nie met leë hande in ’n onbekende wêreld ingestuur nie.

Tydens die skoolvakansie in Desember het die leerders vir drie dae ’n slypskool bygewoon. Die slypskool was die laaste werkwinkel van ’n vier jaar lange mentorskap wat deur die SBA se Gerswin Cupido bestuur is.

Volgens Cupido was die doel van die projek om selfgemotiveerde leerlinge, wat leierskapspotensiaal toon, te ondersteun.

“Ons wou hulle help om die siklus van armoede te verbreek,” sê Cupido.

Lees hier meer: https://www.netwerk24.com/netwerk24/nuus/aktueel/projek-help-leerlinge-om-toekoms-aan-te-gryp-20211217

Die Toekomsprojek het oor vier jaar gestrek. Die jongmense is as graad 9 -leerders van onder meer Vredendal Sekondêr, Hoërskool Nuwerus, Cederberg Akademie (Citrusdal), Jan Kriel Skool (Kuilsrivier) en Thembalethu Sekondêr in George, gekies.

Cupido sê die programmodel is daarop gebou om mentorskap en begeleiding aan leerders vanaf gr. 9 tot gr. 12 te gee. In dié tydperk het die SBA die leerders gehelp om die regte vakkeuses, studierigtings en loopbaankeuses te volg.

Vir diegene wat egter nie dadelik ’n studierigting wou inslaan nie, was die slypskool ideaal.

Al die leerders het die slypskool bygewoon waar hulle verskeie klasse gehad het. Tydens die klasse is hulle onder meer toegerus met vaardighede om CV’s en dekbriewe te skryf en is ook opgelei oor entrepreneurskap, finansiële geletterheid en kommunikasievaardighede.

Lees hier oor wat die leerders te sê gehad het: https://www.son.co.za/Nuus/Kaapsenuus/23-leerders-in-regte-rigting-20211220

Die hoë noot waarop 2021 vir die leerders geëindig het, is die afskoppunt vir die SBA se nuwe projekte.

Vanjaar woeker die SBA met verskeie projekte in die Noord-Kaap. Die Zoë-voorleesprojek, wat reeds vanaf 2011 in die Wes-Kaap aangebied word, is een van die jaar se eerste projekte.

Die voorleesprojek is verlede jaar uitgebrei na gebiede in die Noord-Kaap. Met die Nasionale Lotteryekommissie se stewige toelaag befondsing van R385 301 word dié projek nou tot nog meer skole in die Noord-Kaap uitgebrei.

Nelmari Kemp, bestuurder van die leesprojek, sê ongeveer 70 laerskole in en om Garies, Springbok, Kakamas, Keimoes en Upington sal vanjaar aan die projek deelneem.

“Die doel van die leesprojek is nie om die rol van die onderwyser te vervang nie, maar eerder om die onderwyser se hande in dié belangrike taak te versterk. Dit is ook om gemeenskapsbetrokkenheid in ons kinders se opvoeding aan te moedig,” sê Kemp.

Benewens dié projek is daar ook verskeie ander oud en nuwe projekte waarmee die SBA hom vanjaar bemoei. Hou sbafrikaans.co.za dop vir opwindende kompetisies.

Covid-19 het in die verlede talle projekte gepootjie en hoewel die einde van die pandemie nog nie in sig is nie, is die SBA hoopvol dat hy vanjaar selfs meer sukses met projekte sal hê.

In die woorde van prof. Michael le Cordeur, hoof van Kurrikulumstudie by die Universiteit Stellenbosch en ondervoorsitter van die SBA:Mag die lesse wat verlede jaar geleer is, oplossings bied vir vanjaar se uitdagings.”

Die SBA wens julle alle voorspoed toe met die nuwe jaar.

Barnardstraat 78, Oakdale
Bellville, 7530

Onlangse nuus

Studiebeurs: Honneurs in Afrikaans

Laai aansoekvorm hier af
Lees meer

SBA Letterkunde Verering 2022

Dr Diana Ferrus Vir ‘n lank tyd het Diana Ferrus gedroom dat die tyd van vryheid van die ...
Lees meer

Drie dekades van bemagtiging deur Afrikaans!

Ons is byna aan die einde van 2022, wat ook die einde van die  Stigting  vir Bemagtiging deur ...
Lees meer
Scroll to Top