Foto 2

Deur die wortels van Afrikaans in al haar vorme in die kalklig te plaas, streef die SBA daarna om die volle spektrum van sprekers te erken en taalerfenis op dié wyse uit te bou. Die afgelope maand was juis hierdie missie ons fokus tydens Internasionale Inheemse Mensedag met ons pas vrygestelde boek oor die Strandlopers van die Kaapse Skiereiland: Die leefwyse van ons Vroeë Mense deur Rachelle Greeff.

In gesprek met Ivor Price tydens die boekbekendstellingsgeleentheid op 9 Augustus, beskryf Rachelle Greeff haar persoonlike reis tydens die skryf van Die leefwyse van ons Vroeë Mense as een van die heel lekkerste skryfprojekte wat sy in haar 40 jaar as verslaggewingskrywer gedoen het. Sy reageer egter na afloop van die boekbekendstelling: “Die oomblik (gister) met die opname toe ek drie Skiereilandse Khoi-stamme, met wie ek vir soveel maande nou in die bed was, nie kon herroep nie. Skandalig. Volronde Emmental-oomblik. Ekskuus. Die drie stamme waarna ek stortend probeer verwys het, is natuurlik die Goringhaikona (uit wie die Strandlopers gekom het), die Goringhaikwa en die Gorachoukwa.”

Rachelle, alom bekend as gesoute navorser en bekroonde skrywer, noem met reg tydens die onderhoud dat die skep van so ‘n werk vra dat jy ‘n oorweldigende magdom navorsing doen om dan maar slegs ‘n grepie daarvan met integriteit te kan weergee – iets wat vir haar absoluut ononderhandelbaar is.

Die leefwyse van ons Vroeë Mense nooi die leser om agter die Strandlopers van die Kaapse Skiereiland aan te stap om te sien hoe vernuftig hulle aan die Kaap van Storms oorleef het. Dit was ook Strandlopers, dié in die omtrek van Milnerton-strand, wat voor die koms van Jan van Riebeeck tot die vormgewing van Afrikaans, soos ons dit vandag praat, bygedra het.

Marsanne Neethling, gebaretaaltolk tydens die bekendstellingsgeleentheid, Rachelle Greeff en onderhoudvoerder Ivor Price na afloop van die aanlyn boekbekendstelling.

Die boek, wat slegs in digitale formaat beskikbaar is, vorm deel van ʼn reeks van drie boeke wat fokus op die erfenis van ons Vroeë Mense. Die Griekwa is Nog en Kalahari-waarheid, die eerste twee boeke, is ook gratis aanlyn beskikbaar – elk met ʼn verklankte weergawe wat op die webtuiste as luisterboek gevind kan word.

Die verklankte weergawevan Die leefwyse van ons Vroeë Mense, met Zenobia Kloppers as voorleser, sal eersdaags op die webtuiste bygevoeg word.

Die opskrywing van hierdie geskiedenis deur die SBA is ʼn uitvloeisel uit die Storiesprojek wat deur outentieke videomateriaal vertellings uit vervloë dae probeer vasvang om op dié wyse kultuurerfenis vir ons nageslagte te bewaar. Die boeke is in opdrag van SBA-voorsitter dr Sandra Prinsloo geskryf, wat ook die projekleier van die Storiesprojek is en juis die verhale wat tydens die video-opnames vasgevang is, so aangrypend gevind het dat sy die dryfveer agter die skep van hierdie SBA-publikasies was.

As jy Ivor Price se gesprek met Rachelle Greeff op 9 Augustus gemis het, luister dit gerus hier.

Digital reading corner without borders

Die bekendstelling van die SBA se digitale leeshoekie by Artscape op Jeugdag 2021 was voorwaar ʼn grootse stap om die digitale wêreld te betree. Dit was wel net die begin. Ons is baie opgewonde om nou te kan deel dat dié spesiaal ontwerpte toepassing, gemik op leerders tussen die ouderdom van 5 en 12 jaar, nou nie meer net beperk is tot gebruikers wat die leeshoekie by Artscape besoek nie, maar gratis beskikbaar is in die Google Play Store.

Met die drie storieboeke van skrywer Klavs Skovsholm as basis – Robbie die Rowwe Rot, Fatima en Die Kokerboom – bied die toepassing onder meer die opsie om die prente in elke boek digitaal in te kleur. Die multitalige stories is ook beskikbaar as luisterboeke en die verhaal van Fatima is as gebaretaalvideo beskikbaar. Laai SBA Reading in die toepwinkel af en dra ons stories saam in jou sak!

Barnardstraat 78, Oakdale
Bellville, 7530

Onlangse nuus

SBA Letterkunde Verering 2022

Dr Diana Ferrus Vir ‘n lank tyd het Diana Ferrus gedroom dat die tyd van vryheid van die ...
Lees meer

Drie dekades van bemagtiging deur Afrikaans!

Ons is byna aan die einde van 2022, wat ook die einde van die  Stigting  vir Bemagtiging deur ...
Lees meer

Avonturier se boek oor Afrika in Afrikaans

‘n Ontmoeting met honger hiënas, rotte en vlermuise vir aandete en die eindelose natuurskoonheid van Afrika. Dit is ...
Lees meer
Scroll to Top