executive-511706_1920

Inligting vir werksoekers

Hierdie artikel probeer jou nie wys waar om aan te klop vir vaste werk nie – dis nog te vroeg. Jy moet nog eers rondkyk, opleiding kry en praktiese ervaring opdoen. Die heel beste manier om weg te spring, is om te sorg dat jy leer en werk in ’n beroepsomgewing waarvan jy hou. Van graad 10 af reeds behoort jy oor naweke en gedurende vakansies te gaan werk by plekke wat jou interesseer. So sal werkgewers jou leer ken en na jou begin soek, en nie jy na hulle nie. Maar voor jy gaan aanklop…

Werk en selfrespek

Voor jy werk of ’n loopbaan soek, is daar ’n werkie wat jy eers aan jouself moet doen.

Dis ’n baie belangrike kwessie oor jouself wat jy eers moet uitstryk. Dit het te doen met ’n gevoel of gedagte oor jouself wat dalk kan verbeter.

Iemand het eendag gesê dat mense wat minderwaardig behandel word, minderwaardig sal begin optree, dat kinders wat soos kriminele behandel word, kriminele sal wees – en dat dié wat met respek behandel word, ander ook met respek sal behandel. Hoe werk jy met jouself en met ander?

Selfbeeld

Jou manier om met mense te werk, bepaal uiteindelik jou geselskap, jou woordeskat, jou geldsake en jou selfbeeld. Jou geluk. En dit alles begin met hoe jy met jouself werk.

Dis eenvoudig – as jy jouself afbreek, sal jy “gebreekte” mense na jou toe aantrek. As jy doelbewus positief bou aan jouself, sal jy ook positiewe en opbouende geselskap koester. Oefening is ook baie belangrik – sport, dans, enigiets wat spiere en soepelheid bou.

’n Gesonde liggaam huisves ’n gesonde gees.

Drank, dagga en tik

Om iemand anders met respek te behandel, moet jy eers selfrespek hê. En selfrespek kry jy deur opleiding en die selfvertroue wat jy daardeur opbou. Waar daar nie gesonde selfvertroue is nie, groei daar ’n leemte wat jongmense dikwels met dwelms probeer vul – want dwelms skep die illusie van selfvertroue en geluk.

Bou selfvertroue en selfrespek deur ’n werk te kies waarin jy kan groei  –  dit maak die lewe baie makliker en lekkerder. En boonop is die plesier geheel en al wettig.

Kry vakansiewerk waar jy jou beroep kan vind

’n Werk waarvan jy hou bou ’n gesonde selfbeeld en geluk. Begin vroeg na so ’n werk soek. Meld jouself met entoesiasme aan om te leer in ’n omgewing waarin jy eendag graag sou wou werk. So kan studente  – en ook leerders  – wat met vakansies sonder vergoeding by koerante werk, moontlik met behulp van die koerant ’n studentebeurs bekom om later as joernalis of fotograaf die wêreld vol te kan reis en werk.

Hoe gouer werksmense jou leer ken en weet wat jy kan doen, hoe gouer lui jou foon as daar dinge gedoen moet word.

Jong energie is oral nodig

Borrelende entoesiasme is die goue sleutel in jou sak. Jy hoef aanvanklik niks te weet nie – maar net eerlik wil leer. Dis al wat jy nou nodig het. Sonder jong mense sal alle bedrywe uitsterf. Kyk rond, luister, vra, meld aan en wys wat jy kan doen!

Dikwels is die blote teenwoordigheid van jong energie juis die vlam wat nodig is om ou kennis weer met trots op te warm – so kan jy by ouer mense baie leer.

executive-511706_1920

Barnardstraat 78, Oakdale
Bellville, 7530

Onlangse nuus

Studiebeurs: Honneurs in Afrikaans

Laai aansoekvorm hier af
Lees meer

SBA Letterkunde Verering 2022

Dr Diana Ferrus Vir ‘n lank tyd het Diana Ferrus gedroom dat die tyd van vryheid van die ...
Lees meer

Drie dekades van bemagtiging deur Afrikaans!

Ons is byna aan die einde van 2022, wat ook die einde van die  Stigting  vir Bemagtiging deur ...
Lees meer
Scroll to Top