SBA_feesgroete2

Ons is byna aan die einde van 2022, wat ook die einde van die  Stigting  vir Bemagtiging deur Afrikaans se 30ste bestaansjaar is.

Dié organisasie sonder winsbejag is amptelik in 1992 gestig om versoening en bemagtiging deur Afrikaans te bring en het met sy aanvang bekend gestaan as Stigting Afrikaans.

Die stigting het intussen ‘n naamsverandering ondergaan en sy missie is aangepas om geletterdheid deur Afrikaans te bevorder, mense te bemagtig en terselfdertyd respek vir Afrikaans te bewerkstellig.

Die organisasie wat bekend is vir sy uitreiking op voetsoolvlak na veral verafgeleë dorpies en plekke om by agtergestelde gemeenskappe uit te kom, het hierdie jaar op die Noord-Kaap gefokus.

Ons vlagskipprojek, die Zoë-voorleesprojek, is vanjaar na verskeie dorpies in die Noord-Kaap uitgebrei. Hierdie voorleesprogram wat daarop gemik is om ‘n liefde vir lees by kinders in die grondslagfase te kweek, word aangebied deur opgeleide leesfasiliteerders uit die omgewing en dra ook by tot werkskepping.

Volgens Nelmari Kemp, leier van die projek, kon nagenoeg 8000 leerders vanjaar baatvind by hierdie storiesessies.

Werkwinkels

Die SBA het ook suksesvolle werkwinkels in die Noord-Kaap aangebied. Die eerste Handvaardigheid-werkwinkel is in samewerking met Ngwedi Molalatladi trading as Northern Cape Arise en Labit by drie skole in die provinsie aangebied.

Die SBA se rondreisende Chemie-werkwinkel, wat reeds vyf jaar bestaan, is ook na die Noord-Kaap geneem.  Die rondreisende werkwinkels word aan laerskoolleerkragte in samewerking met SUNCOI (die Universiteit Stellenbosch se Chemie-uitreikingsinisiatief) aangebied.

Nog projekte wat die SBA in dié fokusgebied aangebied het, is die Storiesopname-projek en Prisoniersdrama.

Sandra Prinsloo, voorsitter van die SBA, is aan spits van beide projekte.

Die prisoniersdrama, The Ballroom Boy, is ’n emosionele verhoogstuk wat die soeklig op sosiale euwels soos bendegeweld plaas.

Ander projekte

Die Storiesopname-projek se fokus is op die verskeie dialekte en variëteite van Afrikaans.

Die projekte is ook in die Wes- en Oos-Kaap uitgerol en die Storiesopname-span se soeke na die Afrikaanse dialekte het hulle selfs tot in Namibië gedryf.

Die SBA se Woeker met Wiskunde-konferensie is vanjaar in die Wes- en Oos-Kaap aangebied.  By die laaste konferensie in Kirkwood het ongeveer 100 onderwysers vir die konferensie opgedaag.

Volgens Suma Jovner van Van Lill & Jovner Consulting Pty Ltd wat namens die SBA en in samewerking met die Oos-Kaapse onderwysdepartement die konferensie aangebied het, is Woeker met Wiskunde nie net ’n reeks lesings nie, maar praktiese sessies met verskillende tegnieke om onderwysers te help om Wiskunde vir leerders te ontsluit.

Behalwe die bogenoemde werkwinkels spog die SBA ook met verskeie publikasies en animasieprente.

Ons jongste publikasie , ‘n viertalige idiomeboek,  Ons almal loop op dieselfde aarde, is reeds meer as 400 keer van ons webtuiste afgelaai en meer as 10 000 harde kopieë is by skole landwyd afgelewer.

Fokus op gestremdheid

Die SBA het ook ‘n die afgelope paar jaar ‘n fokus op gestremdheid by sy missie ingesluit om mense met gestremdhede te ondersteun. 

As deel van die ondersteuning is al die SBA se opnames met gebaretaal en onderskrifte aangevul, van die SBA se boeke is laat brailleer en ook verklank, persone in rolstoele is na die teater geneem en ‘n teaterondervinding vir doofblindes in Worcester – ‘n eerste in sy soort, is aangebied.

Ons kinderboeke, Die Kokerboom,- ‘n Kersstorie, Robbie die rowwe Rot en Fatima is in animasieprente omskep om leerders met leer- en leesgestremdhede te bereik.

Vorige projekte

Van die SBA se vorige projekte sedert sy bestaansjaar in 1992 tot 2000 wat uitstaan, is die Koerant in die Klaskamer-projek vir die bevordering van Afrikaans in Mitchells Plain, die tien slypskole vir gemeenskapsjoernalistiek en -literatuur in die Vrystaat, Wes-, Oos- en Suid-Kaap asook geletterheidsprogramme op plase naby Wellington. 

Na 2000 het die SBA veral gefokus op projekte om mense op grondvlak te bemagtig. Van die projekte was gerig op armoedeverligting en intellektuele ontwikkeling deur die behoud van Afrikaans.

Die projekte sluit in opleiding vir 110 mense in Wesbank op die Kaapse Vlakte in basiese geletterdheid en entrepreneursvaardighede, handleidings en leermateriaal vir nuutgeletterdes, skoleprojekte om lees en taalkreatiwiteit te stimuleer.

Die SBA vat ook hande met ‘n Xhosa-stigting om gemeenskappe van moedertaalonderrig bewus te maak.

Nog projekte wat in dié tyd bykom, is ‘n nasionale spelkompetisie en ‘n Wiskunde-olimpiade vir graad 7-leerders.  Ons sien uit na nog 30 jaar van bemagtiging en die bevordering van geletterdheid deur Afrikaans.

Barnardstraat 78, Oakdale
Bellville, 7530

Onlangse nuus

SBA Letterkunde Verering 2022

Dr Diana Ferrus Vir ‘n lank tyd het Diana Ferrus gedroom dat die tyd van vryheid van die ...
Lees meer

Avonturier se boek oor Afrika in Afrikaans

‘n Ontmoeting met honger hiënas, rotte en vlermuise vir aandete en die eindelose natuurskoonheid van Afrika. Dit is ...
Lees meer

Erfenis op Tafelberg

‘n Groep leerders van Matjiesfontein primêre skool en madrassas van drie Kaapse moskees is die afgelope naweek met ...
Lees meer
Scroll to Top