Die immergewilde Afrikaanse digter T.T. Cloete is vroeg vanoggend in die Mooimed-hospitaal in Potchefstroom aan natuurlike oorsake oorlede berig kykNET.
Die eNuus-verslaggewer Daniëlla van Heerden het die nuus op Twitter bekend gemaak. Die Noordwes-Universiteit (NWU) het dit glo bevestig.
Cloete was lank verbonde aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroom-kampus se Skool vir Tale en Skryfkuns.
Hy het talle pryse, onder meer die Hertzogprys vir poësie en die Andrew Murray-prys (vir die omdigting van psalms), ontvang. TT Cloete is onteenseglik een van die merkwaardige figure op die Afrikaanse literêre toneel. Hy is literator, kritikus, digter, dramaturg, prosaskrywer en psalmverwerker.
Hy is op 31 Mei 1924 op Vredefort in die Vrystaat gebore. Sy vrou, Anna, aan wie hy van sy werke opgedra het, is in 2007 oorlede.