Sandra het van stoel na stoel beweeg sodat die mense in die gehoor haar gesig kan voel om haar karakter beter te verstaan

‘n Geskiedkundige dag vir doofblindes en toekomstige teater

“ ‘n Historiese gebeurtenis. Wat ‘n belewenis! Daar is ‘n knop in my keel.”

Só het van die doofblinde gehoor Vrydag na afloop van hul eerste teaterervaring reageer. Die geleentheid is deur die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans aangebied en in die Danie Luckhoffsaal by Innovation for the Blind in Worcester gehou.

Meer as 20 mense met verskillende grade van die dubbele sensoriese gestremdheid het, het die geleentheid gehad om die opvoering van Oskar en die Pienk Tannie te beleef.  Die verhoogstuk is deur die legendariese aktrise en die voorsitter van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans, Sandra Prinsloo, vertolk.

Ek is baie ontroerd oor hoe ontvanklik die gehoor was en oor hoe hulle gelag het en deel wou hê aan die opvoering. – Sandra Prinsloo

Die ervaring was nie net vir van die doofblindes ‘n eerste nie, maar ook vir Prinsloo.  Prinsloo het die oorspronklike emosionele en humoristiese verhoogstuk verkort om die mense wat vir die doofblinde gehoor getolk het kans te gee om die storie soos dit op die verhoog opgevoer word, te vertolk.

“Ek het was bietjie senuwees oor of dit sou werk. Die terugvoer wat ons gekry het, dui wel aan dat dit bo verwagting goed gegaan het. Daar is van die mense wat nou graag die hele vertoning wil sien. Ons kan dit gerus in die toekoms meer doen.”

Volgens Prinsloo was dit vir haar ook ‘n emosionele ervaring. “Ek is baie ontroerd oor hoe ontvanklik die gehoor was en oor hoe hulle gelag het en deel wou hê aan die opvoering.”

Die doofblindes wat die opvoering bygewoon het, se vlak van gestremdheid verskil van person tot persoon.  Hul sitplekke hiervolgens  rangskik sodat hulle die meeste uit die toneelstuk kon kry. Benewens dit het van hulle hul eie tolke gehad, maar van die tolke het vir twee persone op een tyd getolk.

Isy Randall (71) het vir haar twee kinders, Hennie Randall (39) en Madelaine van Zyl (40) getolk. Hennie het by navraag gese dis hy en sy suster se eerste teaterervaring. “Ons het dit baie geniet. Ek het veral gehou van Oskar se briefie.”

Van Zyl het op haar beurt gesê dit is ‘n oulike storie.

*Jacqueline Abrahams (55), Michelle Benardie (51), Garth Connear (35) en Stefanus du Preez (47) se hoor- en siggestremdhede is ook op verskillende vlakke. Tog het die viertal dit reggekry om die opvoering vir mekaar te tolk.

Melri Nel (17) van Pionierskool, die jongste lid van die gehoor, het die geleentheid met haar onderwyser, Suna Verhoef, bygewoon. Melri was baie beindruk met Oskar oftwel Sandra se “snazzy” tekkies. “Die vertoning was baie lekker.”

Anroux Marais, Wes-Kaapse minister van kultuursake en sport, Antoinette Steyn, die uitvoerende burgemeester van die Breedevallei, Dr.Niel Le Roux, hoof van die SBA, Dr Johan Pretorius, Wes-Kaap bestuurder van DoofBlindSA en Rochelle McDondald, nasionale ontwikkelingskoördineerder van DoofBlindSA is van die ander eregaste wat ook die geleentheid bygewoon het. Marais en Steyn het die SBA geloof vir hulle openhartigheid en hul betrokkendheid by die doofblind-gemeenskap.

Pretorius was baie ingenome met al die rolspelers wat die geleentheid moontlik gemaak het. Hy sê die opvoering vir die groep was ‘n “baie goeie deurbraak.”  “Ek het ‘n knop in my keel gehad.”

Volgens hom ervaar doofblinde mense baie uitdagings.

“Mense met dubbele sensoriese gestremdheid word baie gemarganaliseer. Ons is gewone mense met gevoelens. Ons kan seerkry en ons kan liefhê.”

Jeanne Steenkamp, Prinsloo se verhoogbestuurder wat al 14 jaar saam met Prinsloo die verhoogstuk doen, sê die opvoering was vir haar ook ‘n unieke belewenis. “’n Mens dink jy kom om iets  vir iemand te doen en dan doen hulle einlik iets vir jou.”

Barnardstraat 78, Oakdale
Bellville, 7530

Onlangse nuus

SBA Letterkunde Verering 2022

Dr Diana Ferrus Vir ‘n lank tyd het Diana Ferrus gedroom dat die tyd van vryheid van die ...
Lees meer

Drie dekades van bemagtiging deur Afrikaans!

Ons is byna aan die einde van 2022, wat ook die einde van die  Stigting  vir Bemagtiging deur ...
Lees meer

Avonturier se boek oor Afrika in Afrikaans

‘n Ontmoeting met honger hiënas, rotte en vlermuise vir aandete en die eindelose natuurskoonheid van Afrika. Dit is ...
Lees meer
Scroll to Top