Dalk ontsnap jy graag tussen die blaaie van ’n Afrikaanse boek en is die kunstefeeste van die hoogtepunte van jou jaar. Klein Tambotieboom se lirieke vertroos jou wanneer jou emosies laag lê of HemelBesem inspireer jou … dalk skaterlag jy vir Nataniël se droë-diep humor en geniet jy sommer net Kobus Galloway se nuutste strokiesprente … Afrikaans sorg dalk vir jou brood en botter … hoe dit ook al sy – Afrikaans is meer as net ‘n taal – dis ’n leefstyl. Dis jou Afrikaans. Dis #onmisbaar.

Sewe miljoen Suid-Afrikaners praat en lééf Afrikaans – ‘n taal wat op eie bodem tot stand gekom het – eiegoed wat gegroei en ontwikkel het tot ‘n akademiese taal waardeur sprekers internasionaal presteer en plaaslik floreer.

Afrikaans.com kan nie ‘n Suid-Afrika sonder dié taal indink nie, daarom beskou ons Afrikaans as #onmisbaar en beklemtoon ons die belangrikheid van die taal en sy sprekers in ons nuwe reklameveldtog.

Oor die volgende aantal maande kan jy uitsien na ‘n interessante veldtog wat ondersteun word met feitelike inligting op Afrikaans.com en in die media oor die waarde van Afrikaans t.o.v. onderrig, kultuur en die ekonomiese bydrae. Hierdie feite is op ons tuisblad en jy vind dit onder ‘Het jy geweet?’.

Die nuwe reklameveldtog van Afrikaans.com beoog om:

  • Suid-Afrikaners opnuut bewus te maak van die waarde en nut van Afrikaans vir verskillende mense, sektore, ekosisteme en hulself.
  • Bewustheid te skep van die impak van Afrikaans met spesifieke fokus op moedertaalonderrig, sy sprekers se leefwêreld, die uniekheid van die kultuurlewe en die prestasie en selfwaarde van die sprekers van die taal.
  • Die publiek aan te moedig om Afrikaans nie net te verken en te vier nie, maar om ook eienaarskap te neem en dit op te pas!

Neem deel

Miljoene mense leef daagliks Afrikaans op een of ander manier. Dis die taal waarin jy jou brood verdien, kuier, droom, lag … Maar hoe sal jou wêreld wees daarsonder? Wat is vir jou kosbaar … #onmisbaar help jou dink oor wat Afrikaans vir JOU beteken.

Ons nooi jou uit om met die hutsmerk #onmisbaar op sosiale media deel te neem. Neem foto’s, deel jou gedagtes … vertel ons waar en wanneer jy Afrikaans as kosbaar beleef … daar waar dit waarde toevoeg … daar waar dit persoonlik betekenis het … daar waar Afrikaans ‘n verskil maak!

 

Vir meer inligting, besoek http://www.afrikaans.com/news-headlines/onmisbaar/afrikaans-pas-dit-op

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>

clear formSubmit