Meneer die president, ons leerders is honger

Meneer die president, ons leerders is honger

President Cyril Ramaphosa het in sy staatsrede lofwaardige voorstelle gemaak oor die onderwys. Hy het egter ook heelwat beloftes gemaak wat hy nie sal kan nakom nie, skryf Michael le Cordeur in ’n ope brief aan die president.

Geagte meneer die President

Ek reageer graag op u uitnodiging dat gewone Suid Afrikaners met u in gesprek moet tree. Die onderwyser binne my het veral sy ore gespits vir enigiets oor die onderwysstelsel en hoe ons dit kan verbeter. In besonder stel ek belang hoe u, en ek haal u aan: “wil uitreik na daardie dele van die samelewing wat onvergenoeg, belangeloos of gemarginaliseer geword het van verskeie vorms van dialoog en betrokkenheid”. Laat my vanuit die staanspoor sê dat ek geen pessimis is nie. As ek was, sou ek toegelaat het dat die onregverdighede van die verlede en die armoede waarmee ek grootgeword het my gepootjie het in my strewe na akademiese vryheid. As ek u weer mag aanhaal: “(Ek) het my nie oorgegee aan die magte van pessimisme en défaitisme nie.”

My eerste indrukke van die toespraak, is baie positief. Welgedaan, meneer die President, ek kon my vereenselwig met u besinning oor ons gesamentlike reis die afgelope 25 jaar, goed en sleg, en soms selfs u diepe hartseer oor ons pynlike verlede. Tog is daar diep binne my ’n stem wat saam met u wil juig omdat ons as ’n “diverse nasie een van die grootste menslike prestasies behaal het”: Om ’n demokrasie suksesvol te vestig toe die res van die wêreld nie in ons geglo het nie. Daarom vier ek saam met u die triomf van ons vryheid, die triomf van ons jong demokrasie oor rassistiese tirannie, “die triomf van hoop oor vertwyfeling.” Ons kan inderdaad onsself op die skouer klop.

Máár, meneer die president, ná 25 jaar van demokrasie wil ek saam met u stem dat ons allereers vir onsself ’n paar vra vrae moet afvra en eerlik en opreg daarop moet antwoord: Geniet die onderdruktes van die verlede vandag vryheid? Het ons die afgelope 25 jaar daarin geslaag om ’n samelewing te vestig waarin alle Suid-Afrikaners gelyk is? Het ons ’n onderwysstelsel gebou waar die onregverdighede van die verlede nie meer ’n kind se skoolopvoeding bepaal nie? En het ons daarin geslaag om werk aan die jeug te verskaf? Veral aangesien dit blyk dat die jeug hulle deel van die kontrak – naamlik om matriek te slaag – nagekom het?

Waaroor ek wél met u saamstem, is dat ons jeug “hul voet in die deur moet kry in die wêreld van werk.” Vir hierdie hartstogtelike onderwyser maak dit baie sin dat die verbetering van ons onderwysstelsel tweede geplaas word op u prioriteitslys na ekonomiese groei. Sonder ’n doeltreffende onderwysstelsel sal Suid-Afrika se ekonomie nie aan die gang kom nie, en sal die vierde nywerheidsrevolusie net ’n droom bly.

Onveilig en honger

Ruimte ontbreek om binne die bestek van hierdie brief alles te lys wat die Suid-Afrikaanse onderwys benodig. Suid-Afrika het danksy die afgelope nege (vrugtelose!) jare nie die geld om aan al u wense gehoor te gee nie. Dit is na my mening nie nou haalbaar om gratis voorskoolse onderwys (VKO), ’n tablet vir elke leerder, gratis tersiêre studie én die afbetaling van Eskom se skuld te finansier nie. Ons sal dus moet prioritiseer. Laat ek by die heel basiese begin: Meneer die President ons kinders is nie veilig in die skool nie. Hier op die Kaapse Vlakte moet leerders gereeld koes om uit die pad van koeëls te bly en dikwels is dit ’n verbete stryd net om veilig by die huis te kom. Ek waardeer u voorneme dat die regering vasberade is om veilige skole te skep. Ek hou egter nie asem op dat dit binne die volgende drie jaar sal geskied nie.

In dieselfde asem is ek dankbaar is dat 90% van die boeke by die kinders uitgekom het. Maar dit help veel as hulle daardie boeke moet takel op ’n leë maag. ’n Kind wat honger is, kan nie leer nie – nie in Afrikaans nie, nie in Engels nie en ook nie in Venda nie. Terloops: waar is die ander 10% van die boeke? Is daar steeds leerders wat sonder boeke moet klaarkom?

Puttoilette

Meneer die president, in u toespraak bring u hulde aan klein Michael Komape en Lumka Mkethwa wat albei in ’n puttoilet verdink het. Dit bly egter steeds ontstellend dat volgens u eie oudit ongeveer 4000 skole nog nie ordentlike toiletgeriewe het nie. Ons het baie waardering daarvoor dat 699 skole nuwe sanitasie-geriewe ontvang het en dat by ’n verdere 1150 van skole die proses reeds in beplanningsfase is. Ek gee toe dat u nie verantwoordelik gehou kan word dat subcities (of townships soos ons dit ken) gebou is nie. Tog maal die lirieke van Tracy Chapman se liedjie deur my kop: Here in the subcity life is hard. We can’t receive any government relief. As ons dus van verbeterde infrastruktuur in skole praat, moet ons nie eers toesien dat elke kind toegang het tot ’n veilige toilet wat aan daardie kind sy waardigheid en selfrespek sal teruggee nie? Dit is verblydend dat die SAFE-inisiatief (Sanitation Appropriate for Education) wat u van stapel gestuur het, hulpbronne kon mobiliseer en verskeie sakemanne bygedra het om onveilige toilette in skole te vervang. Dit bewys net weer dat gesindhede besig is om te verander: Daar is baie Suid-Afrikaners wat die nuwe Suid-Afrika wil laat werk.

Graad R

Dit is verblydend dat u nie – soos so dikwels in die verlede – teen die einde van leerders se skoolloopbaan (matriek) ’n verskil wil maak nie, maar wel aan die begin: Ek weet van nie ’n enkele goed funksionerende (welvarende) skool wat nie ’n suksesvolle voorskoolse onderwysprogram het nie. Anders gestel: Sukkelende leerders word deur die bank genoodsaak om graad 1 te begin sonder dat hulle
behoorlik skoolgereed is. Die verwoestende gevolg hiervan is daar vir almal om te sien: Van leerders wat nie kan lees nie tot leerders wat sukkel om sosiaal aan te pas en sukkel met dissipline. Ek verstaan dat dit ’n groot uitgawe is, maar dit is die één uitgawe wat geregverdig is. U kry beslis ’n regmerkie omdat u die verantwoordelikheid vir die VKO-sentrums verskuif vanaf Maatskaplike Dienste na die Onderwysdepartement. Nie net is dit opvoedkundig korrek nie, dit maak ook ekonomies sin. Die werklike waarde hiervan in terme van die verwesenliking van ons doelwitte vir die vierde nywerheidsrevolusie kan nie in rand en sent gemeet word nie.

Tien uit tien vir lees

Gepraat van lees: Waarskynlik die heel belangrikste vaardigheid wat ’n kind op skool moet aanleer, is om met begrip te lees. Dit rus die kind uit met die vaardighede om akademies suksesvol te wees, en ’n goeie werk te kry. Soos u tereg opmerk: dit is waarskynlik die vernaamste katalisator om armoede, werkloosheid en ongelykheid te oorkom. U kon net sowel voorgelees het uit my PhD-proefskrif toe u gesê het: “Vroeëgraad leesstudies het die impak gedemonstreer wat ’n toegewyde pakket van leeshulpbronne, deskundige lees-opleiers en lesplanne kan hê op die uitkoms van geletterdheid.” Vir die feit dat die regering die beskikbaarheid van hierdie hulpbronne gaan uitbrei na die volledige grondslagfase en boonop sal begin met die armste skole wat histories benadeel is, gee ek u en die minister van onderwys tien uit tien.

Digitale ontploffing

Meneer die President, soos u self weet, kan ’n kind wat nie met begrip kan lees nie, ook nie ’n tablet gebruik nie. Ek is dus minder opgewonde oor u voorneme om binne die volgende ses jaar elke leerder in Suid- Afrika toe te rus met ’n tablet-rekenaar. Het ons die geld? Ek hoor u duidelik as u sê dat Suid-Afrika ’n belangrike keuse in die gesig staar: die keuse om deur die tegnologiese en digitale ontploffing verbygesteek te word, of om daardie einste tegnologie tot ons voordeel te gebruik. Reeds sien ons dat die meeste handboeke gedigitaliseer word. Die opleiding van onderwysers en leerders word uitgebrei sodat hulle vertroud kan raak met die ontluikende wêreld van tegnologie en kunsmatige intelligensie. Die eerste matrieks het verlede jaar eksamens in Tegniese Wiskunde en Tegniese Wetenskap afgelê. Die pas waarteen die digitale ontploffing beweeg, is verbysterend. En dit is presies my probleem. U praat van oor ses jaar, maar as my inligting korrek is, sal tablette oor ses jaar begin uitfaseer. Die whizz kids sal met iets nuuts vorendag kom. Buitendien voorsien ek dat, soos met selfone, elke kind oor ses jaar in elk geval ’n tablet in die hande sou gekry het. Minstens kan u en die departement van onderwys nie beskuldig word van stagnasie nie of dat u nie tred hou met die digitale ontwikkeling op die gebied van tegnologie en onderwys nie. Dit is dus nie dat die tablette-inisiatief nie meriete het nie. Maar as u my vra wat ek verlang vir elke skoolkind in Suid-Afrika, is my antwoord altyd: Dat elke kind elke dag kan skool gaan in ’n veilige omgewing, kan leer en lees sonder dat die hongerpyne aan hom knaag, en dat elke klas elke dag ’n onderwyser sal hê wat klasgee.

Carpe Diem

Meneer die president, aan die einde van u inspirerende toespraak herinner u ons aan die Amerikaanse skrywer en toekomskundige, Alvin Toffler, se woorde van destyds: dat die wêreld voortdurend verander. Die digitale ontwikkeling sal ons land radikaal verander. Om dié rede verwelkom ek u idee om ’n presidensiële kommissie aan te stel om die vierde Nywerheidsrevolusie te bestuur. Soos u kan ek ook nie diegene wat alewig vanaf die kantlyn wil staan en klippe gooi, verdra nie. Van my kant af kry u ’n kopknik oor u opmerking dat die werklike helde diegene is wat inspring en help. Al is dit net om kinders te leer lees. Saam met u wil ek ook ’n beroep op Suid-Afrikaners doen om die 25ste jaar van demokrasie te benut deur eerlike selfondersoek te doen en onsself af te vra of ons genoeg gedoen het om die Suid-Afrika waarvan elkeen droom, te bou. Ek haal u aan: “Laat ons reflekteer op ons vordering én die uitdagings wat vir ons wag. Laat ons besin oor die foute wat gemaak is deur dit as boustene te gebruik in die hoop op ’n beter môre”. Toe u alle Suid-Afrikaners nooi om mede-verantwoordelikheid vir ons land te aanvaar om te verseker dat die regering sy beloftes nakom, toe weet ek: Hierdie staatsrede is bedoel vir alle Suid-Afrikaners. Die taak
om ’n beter Suid-Afrika en inderdaad ’n beter onderwysstelsel te bou, is die kollektiewe verantwoordelikheid van ons almal, nie net ’n enkele individu nie. Natuurlik lê daar vir ons nog baie werk voor. Maar minstens het u vir hierdie burger hoop gegee. Liewe meneer die President, aanvaar asseblief my eerlike dank dat u my nie misken nie.

Groete,
Michael

*Dit is vandag reeds 30 jaar gelede toe die swart Amerikaanse R&B- sangeres Tracy Chapman die liedjie “Subcity” geskryf het. Dis ’n liedjie waarvan die volgende lirieke ’n warboel van emosionele ervaringe in my as jong man wakker gemaak het.

Subcity
People say it doesn’t exist
Cause no one would like to admit
That there is a city underground
Where people live everyday
Off the waste and decay
Off the discards of their fellow man . . .
*Prof. le Cordeur is verbonde aan die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Opvoedkunde.