Radiowese

Radiowerk strek oor ’n groot en opwindende veld met ’n wye verskeidenheid van tale, kulture en gelowe met eindelosebehoeftes, idees, navrae en eise. Radio-omroepers doen die stemwerk van die bedryf, maar daar is ontelbare ander interessante poste ewe bedrywig om uitsending aan die gang te hou.

Radio sal daar altyd wees

Die radiowese is een van die grootste sektore in die mediabedryf en bied ’n magdom verskillende beroepe teen strawwe kompetisie, maar daar is verskeie maniere om weg te spring.

Baie plekke om te leer

Vele kursusse in die kommunikasie- en mediarigtings bied radio as deel van die leergang aan. Dit is ontwerp om ’n oorsig te gee van uitsaaiwese, algemene joernalistiek, kommunikasiekunde sowel as kreatiewe skryfwerk en tegniese radiokennis.
ONTHOU – Skakel uitsaaistasies vir vrywillige werk, sonder betaling, om ervaring op te doen. Wanneer poste dan beskikbaar word, kan jy aansoek doen met ondervinding wat in jou guns sal tel – boonop met die voordeel dat mense in besluitnemersposisies jou werk en gesindheid reeds kén.

Skryf daai storie wat so by jou spook

Radiodrama is ook ’n goeie manier om betrokke te raak. Goeie tekste vir dramas, sepies en stories is altyd in aanvraag. Die radiodrama-kompetisie wat RSG jaarliks in samewerking met Sanlam aanbied, het juis ten doel om nuwe talent te ontgin en aan gevestigde skrywers die kans te gee om hul werk bekend te stel.
Weet iets van die agtergrond van die uitsaaiwese

Die uitsaaiwese bestaan uit radio- en televisiedienste asook netwerke wat óf self hul programinhoud saamstel, óf die regte bekom om programme uit te saai. Seine word via satelliet vanaf senders na die antennas van radio’s en TV’s gestuur. Enige persoon in die ontvangsgebied kan dan ’n beeld of klank ontvang. Soms is ’n dekodeerder nodig.

’n Verskeidenheid programme word uitgesaai – van nuus, geselsprogramme, musiek tot dokumentêre en vermaakprogramme asook advertensies. Die inkomste vir radiostasies word meestal verkry deur die verkoop van lugtyd aan adverteerders. Die koste word bepaal deur faktore soos die grootte van die luistersyfer, die profiel van luisteraars (manlik, vroulik, ouderdom, inkomstegroep, belangstellings ens.) en natuurlik watter programme op die stasie aangebied word. Openbare diensradio se inkomste word soms aangevul deur instansies wat dit subsidieer.

Jy moet goed weet wie jou teikengehoor is om te kan saamwerk en -speel.
In die geval van RSG, word ’n deel van TV-lisensiegeld gebruik om openbare diensradio moontlik te maak.

Interessante omgewing

Netjies toegeruste ateljees skep aangename werksomstandighede by radiostasies. Party personeellede werk met die produksie en aanbieding van programme, terwyl ander betrokke is by verkope, promosies en bemarking.

Tegniese vernuf

Die tegniese span hanteer die korrekte posisionering en instelling van apparate en stelsels om uitsendings van goeie gehalte te verseker. Nuusskrywers, programsamestellers en tegniese bedryfspersone werk onder geweldige spanning om sperdatums te haal en dit kan vereis dat hulle vroegoggend of laat saans moet werk om hul programme op die lug te kry.

Interessante geselskap

Verkoopspersone, aan die ander kant van die spektrum, word weer aangespoor deur finansiële uitdagings wat baie stresvol kan wees. Administratiewe en bestuurspersoneel werk in ’n kantooromgewing – dikwels met oorlaaide werkskedules. Die uitdagings en opwinding wat mense in die uitsaaiwese ervaar – soos om interessante bekendes te ontmoet – is ekstra vergoeding vir die stres en lang ure wat vereis word.
Werk vir jong entoesiaste.
Die uitsaaiwese is ’n uitdagende beroep wat nooit slaap nie. Om ’n vooraanstaande radiostasie te wees, vereis voortdurende evaluering, aanpassing en vernuwing om nuwe luisteraars te lok én bestaandes te behou. Dis ’n kans vir jou om al die vrae te leer vra wat jy beantwoord wil hê terwyl jy betaal word.

Agter die skerms

Binne groot radiostasies word beroepe in vyf basiese kategorieë verdeel, nl programsamestelling en -aanbieding, nuus, tegnies, verkope en administrasie. By kleiner stasies (bv. gemeenskapsradio) is funksies minder gespesialiseerd en moet ’n personeellid dikwels meer as een funksie verrig.
Hoewel omroepers die sigbaarste en bekendste personeel van ’n radiostasie is, gebeur die meeste van die aksie agter die skerms.

Verwante Beroepe

Joernalis, Kopieskrywer, Produksiesekretaresse, Omroeper, Klankingenieur, Navorser, Dramaturg en vele meer.