Loopbane: Fotografie

Fotografie bied baie meer as die neem van foto’s. Die moderne fotograaf is kunstenaar én wetenskaplike wat fyn toerusting skeppend gebruik om mense, plekke, voorwerpe en gebeure met ’n skerp oog vir ontwerp en komposisie vas te vang. Baie ander beroepe en moontlikhede blom rondom fotografie, maar kom ons kyk eers na die fotograaf self:

Is jy veelsydig en gemaklik met mense?

Suksesvolle fotograwe moet veelsydig wees en hulself nie beperk tot net een spesialisveld nie. Ateljee-fotograwe neem foto’s oor ’n wye spektrum, maar spesialiseer soms in meer as een verdere rigting. Algemene fotografie dek die neem van foto’s vir paspoorte, gradeplegtighede, portretstudies, troues en ander belangrike geleenthede.

Het jy ’n oog vir detail?

Reklamefotografie vereis deeglike ervaring en skeppende vernuf. Hierdie fotograwe moet dikwels werk met ’n voorafbepaalde konsep soos voorgeskryf deur ’n reklame-maatskappy of tydskrif, maar hul kreatiwiteit en oorspronklike interpretasie, tesame met tegniese afronding, is deel van die dissipline.
Modefotograwe moet weet hoe om lewendige, vernuwende en treffende beelde te skep sonder om detail van die klere prys te gee. Begrip en aanvoeling vir kleur, tekstuur en materiaal is net so belangrik soos gemaklike omgang met medewerkers en modelle.

Is jy katvoet en taktvol te midde van ’n drama?

Nuusfoto’s is baie aktueel en stel hoë eise aan persfotograwe om, ondanks die druk van spertye, beeldmateriaal vas te vang onder uiters moeilike of lewensgevaarlike omstandighede. Takt, deursettingsvermoë en kalmte van gees is net so noodsaaklik soos ’n vinnige oog, skerp reaksies en’n deeglike kennis van nie net materiaal en toerusting nie, maar ook die omgewing of onderwerp onder skoot.
Politieke opstande, vure, vloede, ongelukke, kronings, geboortes, die sportveldtriomf of -neerlaag – persfotograwe bring die hartslag van die wêreld na ons binnekamers. Persfoto’s vat onmiddellik die essensie van ’n toneel dramaties saam. Die fotograaf moet duidelike beelde spoedig teen streng spertye oor ver afstande en onder moeilike omstandighede lewer.

Wat van forensiese ondersoeke of speurwerk met ’n kamera?

Gespesialiseerde fotografie dek ook terreine soos forensiese ondersoeke. Hospitale en navorsingsinstitute benodig fotografiese rekords van operasies en resulate van eksperimente. Polisie en speurders verwag ook presiese fotografie by moord- en rooftonele. Mediese en wetenskaplike fotografie vereis ’n goeie kennis van die betrokke vakgebied, spesialistoerusting en elektroniese flitstegniek. Die werk word gewoonlik in ’n laboratorium uitgevoer en kreatiwiteit is nodig om ongewone detail vas te vang.

Van hoogvlieg tot diepduik – foto’s van alles moet geneem word!

Verdere spesialisterreine dek handels- en industriële fotografie, fotografiese bemarking, onderwater- en lugfotografie. Die behoefte van die mensdom om alles te sien en alles te weet ken geen perke nie. Wat sou jy die graagste wou afneem?

Opleiding

Aanbevole skoolvakke
Wiskunde, Kunsgeskiedenis, Geskiedenis, Biologie, Inligtingstegnologie, Geografie, Ontwerp, Besigheidstudies, Musiek, Toerisme, Visuele Kunste en meer.
Universiteit van Tegnologie
Drie-jaar Nasionale Diploma: Fotografie
Vier-jaar B.Tech: Fotografie
Tegniese en Privaat Kolleges
Nasionale Diploma: Rolprentvervaardiging (Regie)
B.Tech: Multimedia
Toelatingsvereistes
’n Senior Sertifikaat of ekwivalent.
Keuringsvereistes
Tesame met akademiese toelatingsvereistes word dikwels ook ’n onderhoud en portefeulje op kampus vereis.

Werksgeleenthede

Fotograwe word gewoonlik op ’n vryskutbasis gehuur deur koerante, tydskrifte en ander media, asook modehuise, ontwerp-ateljees, reklamemaatskappye, hospitale, regeringsdepartemente, navorsingsinstitute en vele meer.

Verwante beroepe

Kameraman, Handelskunstenaar, Filmredigeerder, Joernalis, Litografiese kunstenaar, Mikrofotograaf en Fotografiese restoureerder.