Loopbane: Die advertensiewese

Jou loopbaan is jou leefstyl, jou eie talent, jou eie drome, jou eie taal. Hier is die loopbaanrigting van die maand – die Advertensiewese.

Die Media

As boerdery tot onlangs die hartslag van die mensdom was, is dit vandag die media.

Maklike, vinnige kommunikasie is die pols van alles. Regerings se grootste vyande is nie meer hul bure nie, maar die trompetblasers wat hulle doen en late uitlap. En dis maar een aspek van die multi-dimensionele media- en kommunikasiebedrywe. Vir elke persoonlikheidstipe is daar iets om te leer en te doen.

Al wat leef, soek vandag toegang tot maklike en bekostigbare inligting. Selfs kleuters is deesdae besig met rekenaarspeletjies. En van kinderspeletjies tot stories vir TV, radio en die internet, van reklame tot fotografie, en van verslaggewing tot selfoonmusiek – daar’s vooruitgang.

En daar’s werk! Baie werk! Lekker werk!

Die Advertensiewese

Glans en gevaar

Reklame bied ’n glanslewe. Omtrent alles waarvan jy hou is daar. Mooi mense en slim mense, luukse kantore en lewendige ateljees, kunstenaars en boekhouers, storiemakers en liedjieskrywers, deurnagte en glanspartytjies. Dis ’n uitdagende wêreld vol sprankelende geselskap. Maar jy moet vinnig op jou voete wees. Elke uitdaging is daar, maar ook die gevare. Dinge gebeur so vinnig en jy kan jou vingers verbrand as jy nie beplan nie.

Byenes van bedrywighede

Van voorblad-modelle tot die manne wat altyd raas oor geld  – dis ’n vinnige en bedrywige wêreld, maar iewers kan jy ook betrokke raak en help om ’n nuwe advertensie betyds, vanaand nog, op die lug te kry.

Of jy nou die model is of die een wat die kamera oppas en versorg, daar’s baie soorte werk.

Soos in die joernalistiek is daar ’n aktiwiteit vir elke smaak – skeppend, tegnies, bestuur of beheer – reklame is ’n byenes van spesialiste. Waar sal jy die lekkerste inpas?

Jong bloed

Een ding is seker – jong entoesiasme bly die lewensbloed van advertensies. Daar is altyd ’n soektog na vars idees wat praat met vandag se kykers en besluitnemers. Elke dag is daar nuwe uitdagings. En wat lekker is, is dat ervare hande jou boonop die pad sal wys om jou eie verbeelding te laat werk.

Daag net op met ’n netjiese rapport. En wees lus vir wat jy goed kan doen. Of wil leer doen. Het jy al daaraan gedink om vir ’n naweek lank gratis saam met ’n advertensie-span te werk? Al dra jy net kabels rond tydens ’n fotosessie, of gaan koop kos vir die modelle – jy kan iets leer. Die gogga kan jou byt…

Waarvan hou jy?

Eers moet jy jou huiswerk doen. En jou huiswerk is dat jy moet hou van tydskrifte en televisie en radio. Van stories aandra. Of musiek. Modes. Ontwerp. Of koerante en gereedskapskaste. Wat van klanktoerusting en regie? Maar – jy moet darem eers weet waarvan jy praat. Vind uit wat jou die meeste interesseer.

Wye veld en mooi meisies

Reklame dek ’n wye spesialisveld – van kopieskrywers en artistieke direkteurs tot rekenaar-entoesiaste, van kunstenaars en televisiespanne tot radiospesialiste, van boekhouers en kliëntskakelbeamptes tot mooi meisies wat giggel. In helikopters vol kameras. Hoe gaan jy saamspeel?

Prikkel prikkel prikkel

Reklame bly een ding, en dit is om produkte so doeltreffend moontlik aan die publiek bekend te stel. Om verkope te prikkel. Dis die doel van alle skeppende en finansiële planne. Treffende idees, inisiatief, vars denke en vindingrykheid is van groot belang – maar ook deeglike algemene en spesialiskennis.

Het jy al ooit gedink aan ’n beter advertensie as dit wat jy op TV sien? Watter een? Vir watter produk? Het jy jou idee al probeer omskryf of teken? Hoekom nie? Doen dit en stuur dit aan die reklamemaatskappy wat die advertensies doen. Bel en vind uit wie dit is. Droom, dink, doen! Dit kan jou lewe verander.

Planne somme planne

Behalwe die uitdink van nuwe reklameveldtogte, bied die bedryf vele meer beroepe, soos mediabeplanning en -aankope. Dis nou die ouens wat planne beraam om ’n produk ten beste te adverteer, die grootste teikenmark teen die laagste tarief te bereik, en te onderhandel om reklameruimte of -tyd netjies af te pen vir pers, radio en televisie.

Dissipline is baie belangrik, omdat spertye wag en begrotings moet klop.

Maar as jy eers geesdrif het, kom dissipline baie makliker…

Geesdrif, stres en spertye

Om advertensies te maak is nie maklik nie. Die glans word geweeg teen die sweet. Geesdrif word gemeet teen die stres om spertyd te haal. Maar as jy uitblink, kan jy goed geld maak. En lekker leef. Verbeeldingryk.

Wat moet ek kan doen om te begin?

Kandidate moet wel ter tale wees, nuuskierig en vol inisiatief, skeppend en entoesiasties – terwyl syfervaardigheid en fyn detailbeplanning nodig is om die geldsake in orde te hou. Wat jy nie weet nie, kan jy leer.

Bou ’n netwerk van kontakte

Party mense het ’n natuurlike gawe om met ander gesprekke aan te knoop en maklik vriende te maak. Dis ’n talent wat goud werd is in die veld van bemarking.

Hou ’n lys by van name van mense wat werk in die bedryf wat jou interesseer.

Maak jouself beskikbaar om gratis te help met projekte of funksies en leer soveel jy kan sonder om lastig te wees.

ONTHOU – Dis hoe Simon Cowell van Idols begin het. Sy liefde vir bemarking en bekendstelling van musiek, sy nuuskierigheid en haat vir min geld het hom vandag een van die rykste en glo ook gelukkigste mense op aarde gemaak.  Hy’t begin om mense se name en nommers neer te skryf en om alles by hulle uit te vind wat hy van bemarking wou weet. ’n Lang lys name is opgebou. Dis netwerking. Dit werk. Dis geld.

Verkoop ys aan ’n Eskimo

As mense sê jy het ’n gladde bek en kan ys aan ’n Eskimo verkoop en sand in die Sahara, het jy dalk net wat nodig is om ’n sukses te maak in die reklamewese. Kyk bietjie hieronder wat jy nóg nodig het:

Nodige skoolvakke

Afrikaans, Engels, Europese tale soos Frans of Duits, of inheemse Afrikatale; Kuns en RTT, terwyl vakke soos Hout- en Metaalwerk toegepas kan word in stelbou en dies meer. (Stelbouers en ander spesialiste soos grimeerkunstenaars, kostumiers en skeppers van spesiale effekte word deur reklame-agentskappe gesubkontrakteer)  Ontwerp, Besigheidstudies, Rekeningkunde, Musiek, Toerisme en meer. Vind verder by ’n inligtingskantoor van ’n universiteit uit watter vakke jy moet neem om in die reklamebedryf te kan werk. Vra by ‘n reklame-agentskap of jy vir ’n dag kan saamwerk aan ’n projek.

Opleiding

Universiteit

’n Drie-jaar BA-graad in Tale of enige ander relevante vakrigting soos Kommunikasie, Bemarking, Sielkunde, Sosiologie, Filosofie en vele meer.

Universiteit van Tegnologie

’n Vier-jaar B.Tech: Taalpraktisyn. Of enige vaardigheid in geldsake of skeppende vernuf. Omtrent alle velde van kennis word in die advertensiebedryf betrek.

Werksgeleenthede

Kopieskrywer, Kunstenaar, Uitlegkunstenaar, Illustreerder, Animeerder, Stelontwerper, Stelbouer, Mediabeplanner, Boekhouer, Artistieke Direkteur, Reklamebestuurder, Kliënteskakel, Model, Modelbouer, Model-agent, Kameraman, Fotograaf, Navorser, Rekwisiteur, Rekenaargek, Grimeerkunstenaar, Produksiesekretaresse, Beligtingspersoon, Klankingenieur, Liriekskrywer, Stemkunstenaar, Akteur en baie meer.

 

 man-335401_1920