Entrepreneurskap

Entrepreneurskap is ondernemingsgees en ’n entrepreneur is iemand wat nie net nuwe en lewensvatbare idees uitdink nie, maar dit verder tot winsgewende sukses ontwikkel.

Vindingrykheid is die kern van die saak – om nuwe antwoorde te vind op alledaagse lewensprobleme en -uitdagings. Dis die nuwe maniere wat jy self uitdink om jou eie probleme in en om die huis of werksplek op te los, wat hier tel!

Eenvoud en Vernuf

Die skeppende vernuf wat ons soek word nie noodwendig aan ingewikkeldheid gemeet nie – die skuifspeld wat geld of papier netjies vasknip het vir die ontwerper daarvan meer sukses ingeoes as wat ’n maanlandingstuig sou, en die haarknippie maak steeds meer geld as hartoorplantings.

Van hartoorplantings gepraat – Dr Christiaan Barnard se ontwikkeling en uitvoering daarvan is een van Suid-Afrika se bekendste uitvindsels. Hy was ’n ware entrepreneur.

Maar só ook was die uitvinder van Pratley Putty – dit was die enigste Suid-Afrikaanse produk wat deel was van die eerste maanlanding! Van die Kreepy Krauly, wat swembaddens skoonslurp tot die reuse beton dolosse wat magtige oseane teëhou, van kat-ogies wat snags waarskuwend op teerpaaie blink tot die OTM –  alles istrotse Suid-Afrikaanse uitvindsels.

Maar wat is jou idee?

Briljante konsepte is gewoonlik selde iets wat met pyn bedink word – dis dikwels oplossings wat spontaan opflits, jou eenvoudige antwoord op ’n ingewikkelde probleem.

Maar daarná moet dit deeglik beplan en tot uitvoer gebring word;  óf jy ’n kuur wil vind vir babelaas óf ’n motor wil ontwerp wat op water loop – leer die besigheidsontwikkeling daarvan vóórdat jy die resep aan die wêreld uitblaker.

Hoe kan jy jou uitvindsel verder ontwikkel?

Van patenteregte tot verkoopsinisiatiewe, van marknavorsing tot bekendstelling, jy moet jou plan ken of iemand anders spring jou voor.

Daarom bestaan uitstekende leerprogramme by instansies soos Universiteit Stellenbosch en UCT Graduate School of Business wat jou rig om jou idees, planne en sakekennis tot ’n suksesresep te orden.

As jy die dop nie kraak nie, kan jy die neut nie eet nie, só lui die gesegde – en by goeie besigheidskole kan jy leer om die dop van jou briljante idees te kraak sonder om jou vingers raak te slaan.

Moenie die waarde van jou idees onderskat nie

Wie kon ooit dink om ’n ou sementsak in ’n stylvolle skootrekenaarsak te omskep?

Iemand het eendag gesê dat daar geen sekerheid op hierdie aarde is nie, slegs geleenthede. Nie altyd waar nie. By leerskole kan jy sekerheid inwin om geleenthede netjies tot sekuriteit te omskep. Te veel mense ontbeer miljoene rande wins deur blote onkunde of onsekerheid. Baie ontdek briljante sake-idees sonder om die potensiële waarde daarvan te besef.

Die Afrikaner wat die verfroller uitgedink én toegepas het, het dit ongelukkig nie gepatenteer nie – iemand anders het hom dopgehou en dit vinnig elders gaan registreer. Dis vandag ’n miljardrand-bedryf – helaas nie in die sak van Oom Izak Kukard nie. Kortom – as jy weet of vermoed dat jy potensiaal het om rewolusionêre konsepte te bedink óf raak te sien, doen jouself, jou gesin, jou gemeenskap én jou land ’n groot guns en volg’n deeglike kursus in sakebestuur om jou vindingrykheid ten uitvoer  te bring.

Soos talle ander talente en aanlegte, is briljante idees sonder ’n sakegrondslag niks werd nie.

Hou jou idees onder jou hoed

Beskerm jou idees. Napoleon het gesê: “As jy iets ordentlik gedoen wil hê, doen dit self.” Nou weet ons ook hoekom hy daai hoed gedra het: Hy’t sy beste planne veilig daar bewaar.

En, entrepreneurskap ken geen perke nie – trouens, van motorwerktuigkunde tot kombuiswerk, vermaaklikheid tot wetenskap, natuurlewe tot kantoorwerk – die entrepreneur se vindingrykheid is so wyd soos die verbeelding.

Veels te dikwels is  die sakekennis om idees deeglik te ontgin noodlottig beperk.  Jy kan iets daaraan doen.

Doen navraag by besigheidskole! Hou jou mond toe en jou hande besig, maar kom net aan die gang. Ons het jou idees en ontwerpe nodig. Hou jou potlood, uitveër en skerpmaker byderhand en maak maklike tekeninge van jou idees.

Ontwerp daai kar wat op water loop. Maak daai gatsak-braai. Skryf jou idee vir die beste tuisgemaakte tamatiesous neer. Daai selfoon wat met sonlig laai, moet nog gemaak word. Jou oplossing vir jou eie probleme is net wat ons almal dalk nodig het…

ONTHOU – Die man wat die iPhone ontwerp het, vertel dat hy ver weg van negatiewe kritiek moes gaan woon sodat hy sy idee kon klaardink, want sy kwesbare plan sou nie die aanslag van skeptiese mense kon oorleef nie.

Jy mag dalk ’n eenvoudige resep bedink om diere van vlooie en bosluise te red, of ’n natuurlike middel wat aknee genees, of ’n swaar gereedskapskas wat op lig wiele draf – wat ook al – hou dit weg van jaloerse ogies en bitterbekke.

Dis jou eenvoudige oplossing vir ou probleme wat die wêreld ’n beter plek kan maak!

Verwante Beroepe

Die moontlikhede van entrepreneurskap is onbeperk.  Alle invalshoeke op alle vakrigtings bied geleentheid vir vernuwing en ondernemingsgees.

Aanbevole skoolvakke

Afrikaans, Engels, ander tale, Besigheidstudies, Tik, Ekonomie , trouens enige vak wat rym met jou aanlegte en belangstellings is ’n goeie wegspringplek om ’n onderneming van jou keuse te skep.

Toelatingsvereistes

Goeie interpersoonlike vaardighede is belangrik, en so ook goeie algemene kennis, ’n vermoë om ingewikkelde idees eenvoudig uit te spel en om ander met deeglike grondwerk en planne van jou ondernemingsukses te oortuig. Kortom gestel: entoesiasme, goeie maniere en verbeelding gerugsteun deur ’n nuwe plan wat ou probleme oplos.

Gary Player het gesê entrepreneurskap is soos gholf;  jy kan daaroor boeke lees en klasse bywoon, maar dis elke dag se oefening op die baan wat tel. Verder het hy ook oor gholf gesê: “Hoe meer ek oefen, hoe meer geluk tref ek!”