Borsbeeld van Adam Small aan Kunstekaap geskenk

n Bronsbeeld van die ontslape skrywer en digter Adam Small gaan eersdaags by die Kunstekaapteater in Kaapstad opgerig word.

Die beeld is deur die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) met die finansiële ondersteuning van die Historium Trust in die Paarl aan dié teater geskenk.

Luidens ’n verklaring van die SBA dien die beeld as “ ’n tasbare taalerfenis-nalatenskap. Die skenking is ’n simboliese gebaar deurdat die teater in die apartheidsjare net vir wit mense toeganklik was en dat selfs van Adam Small se werke met ’n wit rolverdeling daar opgevoer is”.

Dr. Niel le Roux, hoof van die SBA, sê die gebaar dien as viering van die taal se erfenis en versoening.

“Artscape is gekies, omdat dit juis sentraal staan binne die ontwikkeling van taal en woordkuns in die Suid-Afrikaanse meertalige konteks. As Kaapse boorling en Afrikaanse woordkunstenaar by uitstek, verwoord Small vir ons hierdie versoende Afrikaanse visie.”

Johannes du Plessis, beeldhouer en kunstenaar van Franschhoek, het die beeld gemaak.

Small se toneelstuk Krismis van Map Jacobs word van 7 tot 12 Maart in die Kunstekaap opgevoer.

 

Joernalis: Laetitia Pople

Fotograaf: Chervon Samuels

 Die Bruger