Afrikaans: ons almal se taal

Prof Michael le Cordeur

In die onlangse verlede was daar verskeie uitsprake oor bruin mense se apatiese houding teenoor Afrikaans, ten spyte daarvan dat hulle die grootste groep Afrikaanssprekers is. So skryf die joernalis en meningsvormer Tim du Plessis in Rapport (27.08.17) dat “bruin mense nou die toekoms van Afrikaans in hul hande hou”. Hierop vra die kommentator Heindrich Wyngaard “Waarom is bruin mense so stil?” (Rapport, 21.01.18) na aanleiding van bruin mense se stilswye na die howe se uitspraak oor die status van die taal aan die Universiteite van Stellenbosch en die Vrystaat. Die joernalis en historikus Leopold Scholtz (25.01.18) reageer met: “… dis ons almal se moeder wat in die konstitusionele hof tot ’n langsame dood gevonnis is en ons moet almal inspring om haar te red.”

Bruin mense se Afrikaansheid ontken

Vroeër, veral tydens apartheid, is die Afrikaansheid van bruin en swart mense ontken. Vandag is dit algemene kennis dat die meerderheid Suid-Afrikaners wat Afrikaans as moedertaal het, nie wit is nie, maar bruin; (ook swart). Meer as 51% van alle Afrikaanssprekendes is van die groep wat onder apartheid as kleurling geklassifiseer is. Hierdie woord word vandag deur hierdie groep mense verwerp. Die meeste van ons wil net as bruin Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners bekend staan.

Vandag is dit algemene kennis dat die meerderheid Suid-Afrikaners wat Afrikaans as moedertaal het, nie wit is nie, maar bruin.

Telkens word die getalle van bruin Afrikaanssprekendes bygesleep as iemand ’n argument ten gunste van Afrikaans wil staaf. Toe die Gautengse Minister vir Onderwys aankondig dat Afrikaanse skole gaan verander na Engels, was sommige gou om daarop te wys dat meer bruin mense Afrikaans praat as wit mense. Dikwels moet ons hoor dat Stellenbosch nie sy Afrikaansheid durf prysgee nie omdat dit die huistaal van baie bruin studente is.

Maar waar het dit alles begin?

In sy boek So kry ons Afrikaans wat handel oor die heel nuutste navorsing oor die onstaan van Afrikaans, noem prof Christo van Rensburg dat die eerste tekens van Afrikaans al in 1500 aanwesig was. Dus lank voordat die Hollander Jan van Riebeeck in die Kaap aangekom het. Ek haal hom graag aan: “Die Khoi-Khoin het seelangs so halfpad tussen Europa en die Ooste gewoon. Die Europese seevaarders het dikwels uit Europa vertrek op pad na die Ooste. Skaars speserye en ander handelsware moes daarvandaan na Europa vervoer word. Sonder ’n rusplek aan die Kaap was die seereis onmenslik lank en gevaarlik. Baie mense het siek geword en gesterf. Kos, vars vleis en water is gekry van die Khoi-Khoin wat die eerste bewoners aan die Kaap was. Hieroor moes onderhandel word – en so op spontane wyse is ’n taal gebore.”

Ná die koms van Jan van Riebeeck en die Hollanders het grootskaalse ontwikkeling plaasgevind. Daar was baie werk, en min hande. Slawe is op groot skaal ingevoer uit die Ooste veral Indonesië, Java en Batavia. Europese boere, die sogenaamde Vryburgers, het op groot skaal na die Kaap gekom waar die Verenigde Oos-Indiese Kompanje (Hollandse amptenare) grond aan hulle toegeken het. Die Khoi-inwoners is gehuur om die plase te bewerk. Vyftig jaar na Jan van Riebeeck se koms was daar vier groepe aan die Kaap: (1) die Hollandse amptenare van Europa, (2) die vryburgers, (3) die slawe uit die Ooste en (4) die plaaslike Khoi-Khoin. Hierdie vier groepe was vir hul voortbestaan interafhanklik van mekaar. Vir die suksesvolle naasbestaan moes die vier groepe aan die Kaap ʼn taal vind. Daardie taal was Afrikaans.

Drie groepe Afrikaanssprekendes

Om hierdie rede is die volgende woorde van NP van Wyk Louw aangebring op die fondament van die Afrikaans Taalmonument op Paarlberg: “Afrikaans is die taal wat vir Wes-Europa en Afrika verbind; dit suig sy krag uit dié twee bronne; dit vorm ’n brug tussen die groot helder Weste en die magiese Afrika – soms nog so ónhelder Afrika; hulle is albei groot magte, en wat daar groots aan hulle vereniging kan ontspruit – dit is miskien wat vir Afrikaans voorlê om te ontdek.” Afrikaans is ook die taal wat die Ooste met die Weste verbind hier aan die suidpunt van Afrika. Om hierdie rede bestaan die Taalmonument uit drie suile: twee kleineres , vir die Weste (Europa) en die Ooste en die grootste suil simboliseer die Afrika-element van Afrikaans. ’n Taal uit die bodem van Afrika met al sy woorde wat ontleen is aan die Afrika-tale soos Khoi. Vandag dra Suid-Afrika se bevolking steeds die tekens van hierdie drie groepe: die wittes uit Europa, die bruin mense uit die Ooste en die swart mense uit Afrika. Almal praat Afrikaans.

Een van slegs ’n handjievol

Laat my toe om my voor te stel: Ek is in Afrikaans ontvang en gebore. My ouers (Michael snr. en Sylvia) praat albei steeds standaardafrikaans. My Oupa Willie wat, as hy nog geleef het, vanjaar 105 jaar oud sou wees, was gebore Afrikaans en een van die eerste ses matrieks aan die (Afrikaanse) Hoërskool Bergrivier in Wellington. Dieselfde skool waar ek gematrikuleer het. Anders as talle van my bruin tydgenote het ek my kinders Afrikaans grootgemaak en na ’n plaaslike Afrikaanse skool gestuur. Danksy talle tydelike werkies (want die staatsbeurs het slegs klasgelde betaal) kon ek aan die UWK studeer en ’n Afrikaansonderwyser word. Ek was van vroeg af reeds betrokke by Afrikaanse vakverenigings en is vandag steeds betrokke by Afrikaanse organisasies. Tog was geen Afrikaanse instansie bereid om vir my ’n beurs te gee vir my doktorale studie oor Afrikaanse onderwys nie. Elke sent het uit my sak gekom. Ek gee hierdie breedvoerige agtergrond sodat niemand moet twyfel oor my liefde en passie vir Afrikaans nie of my moet verdink dat ek Afrikaans versaak oor wat ek nou gaan sê nie.

Dat bruin mense ‘stil’ is oor Afrikaans is myns insiens nie heeltemal waar nie. Ek het reeds 26 jaar gelede in Die Burger geskryf die “Bewaring van Afrikaans vereis ’n nuwe benadering op skool” (DB, 21 Mei 1992). En ’n jaar later skryf ek dat “Afrikaans se toekoms het lank laas so seker gelyk as nou” (DB, 23 Julie 1993). Sedetdien het meer as 250 artikels oor Afrikaans en my liefde vir die taal uit my pen verskyn (Dis nou volgens my 80-jarige moeder wat al my artikels die afgelope 26 jaar sorgvuldig uitknip en liasseer.) Ek het Afrikaans se saak gestel in byna elke Afrikaanse dagblad en tydskrif; selfs in Engelse en Nederlandse publikasies. Vandag is ek een van slegs ’n handjievol Stellenbosse akademici wat nog skryf en publiseer in Afrikaans. Ek is ook nie die enigste bruin mens wat passievol oor Afrikaans is nie. Kyk maar na die talle uitsprake deur bruin kollegas op sosiale media: Alles in pragtige Afrikaans. Die vraag is dus:

Waarom staan bruin mense buite die Afrikaanse debat

Heel eerste is ek van mening dat bruin mense minder blootstelling kry in die media. Die artikels wat hulle skryf, word nie so geredelik aanvaar as hulle dit vir publikasie voorlê nie. Omdat die meeste bruin mense se standpunt oor Afrikaans verskil van die hoofstroom, word hulle mening geïgnoreer. Dit het gelei tot ’n apatiese gevoel van Wat help dit tog? Die tweede rede waarom bruin mense versigtig is om by ’n taaldebat betrokke te raak, is omdat bruin mense van nature nie van moeilikheid hou nie. Dit is ’n oorblyfsel van hul slawenalatenskap toe hulle geleer is om hul mond te hou en net te doen wat die ‘baas’ sê. Daarom dat hulle so lank stil gebly het onder apartheid. Selfs toe die bruin jeug in 1976 die inisiatief geneem het, moes ons dikwels hoor: “Julle moet uit die moeilikheid bly.” ’n Derde en baie legitieme rede vir bruin mense se onbetrokkenheid by die taaldebat, is hul stryd om oorlewing. Daar is soveel ander probleme, soos armoede, onderwys, veiligheid en die bendevraagstuk in die bruin gemeenskap. Die meeste bruin mense se eerste prioriteit is en was nog altyd om kos op die tafel te sit. Die meerderheid wit mense kan nie begryp waarom die grootste groep Afrikaanse sprekers nie die wapen vir Afrikaans saam met hulle wil opneem nie. Bruin mense aan die ander kant kan nie verstaan waarom wit mense alewig wil oorlog maak oor taal nie. Intussen gee wit mense geen snars om vir die werklike bende-oorlog op die Kaapse Vlakte nie.

Afrikaans én Engels

Die apartheidsregering se klassifikasiebeleid om almal wat nie wit of nie swart is nie, onder die skelwoord kleurling te groepeer, het bruin mense gemotiveer om iets so negatief om te skakel na die positiewe. Khoi en San, Griekwa en Moslem en Indiër het binne ’n relatiewe kort tyd ’n manier gevind om met mekaar saam te leef. Hulle het mekaar se gewoontes, waardes, godsdiens en selfs mekaar se taal aangeleer. Daarom is die meeste bruin mense ewe gemaklik met Kaapse Afrikaans as Standaardafrikaans. Ook met Afrikaans én Engels, want ons het met albei tale grootgeword. Soos Jo-Anne Floris skryf: “Afrikaans en Engels het nog altyd handjies vasgehou en openlik gevry”, (DB: 14.02.2018). Die een kant van die familie was die Engelse van Distrik Ses (my ma) en die ander kant was die Afrikaanse mense van die Boland (my pa). Daarom praat bruin mense tot vandag toe nie van oom en tannie nie, maar van auntie Sonie en uncle Mikey. Om dus teen Engels uit te vaar, is om teen die taal van ’n deel van jou familie te diskrimineer. Dan was (is) daar ook die bruin elite onder ons. Diegene wat by die politiek betrokke geraak het. Wat alles van die apartheidsregering gehaat het. Wat mense aangemoedig het om niks te doene te hê met die ‘boere’ nie. Dit sluit in sport en taal. Hulle kinders is Engels grootgemaak. Die sportboikot van die apartheidsera is hoofsaaklik in Engels gevoer. Vergaderings en notules is in Engels gehou (al het ons tydens teepouses net Afrikaans gepraat). Afrikaans is tot die taal van die onderdrukker verklaar. Enigeen wat toenadering tot Afrikaans en wit sport gesoek het, is verguis en gemarginaliseer. Hierdie bruin mense het nie vergeet hoe wit Afrikaanstaliges hul bruin taalgenote verraai het nie. Die Afrikaner-Natte (= lede van die Nasionale Party) wat die bruin mense in die 1950’s van hul stemreg ontneem het, is nog vars in die geheue. Hierdie mense is van mening dat bruin mense net erken word as hulle getalle die wit mense en hul taal moet kom red. Voeg hierby die Afrikanernasionaliste wat talle onregte teenoor hul bruin familie gepleeg het, en Afrikaans as hul alleenbesit beskou het al het bruin mense net soveel tot die ontwikkeling van Afrikaans bygedra, en dit is te verstane dat bruin mense hierdie skielike toenadering met agterdog sal bejeën en op enkele uitsonderings na nooit dieselfde oor Afrikaans sal voel as hul wit taalgenote nie.

So wat doen ons daaraan?

Ons kan begin deur bruin mense se gevoelens veel meer te respekteer as wat tot nou toe die geval was. Bruin mense moet ook van hulle kant begin om positief op hierdie uitreiking te reageer. Die meeste van hierdie uitreikaksies is opreg bedoel en kom uit ’n goeie hart. Ses en twintig jaar gelede moes ek oor my eie vrese kom en die sielkundige rubicon oorsteek wat my jare lank passief en stom gehou het. “Te hel met diegene wat my wil verguis oor ek trots Afrikaans is,” het ek besluit. Ek wil hoop dat ek ander bruin Afrikaanses sal motiveer om dieselfde te doen. Die volwassenes wat die Beloofde Land in 1994 binnegegaan het, het verstrengel geraak in hul eie argumente, hul alewige stryery en geheime agendas. Die verantwoordelikheid wat op ons skouers rus, is dus baie meer as net die toekoms van Afrikaans. Dit vra vir respek vir álle tale. Want in die proses van nasiebou het almal wat werklik help bou aan ’n nuwe Suid-Afrika, lank reeds agtergekom dat ons toekoms meertalig is. Die jeug van 2018 leef naas mekaar en kommunikeer in vele tale – anders as ons voor 1994.
Ons sal na dese die diskoers oor taal in ’n ander rigting moet stuur. Pleks dat ons vashaak by die debat tussen Afrikaans of Engels sal ons meer as net lippediens moet bewys aan die inheemse moedertale van ons land. Sodoende sal die toekomstige Suid-Afrikaner respek vir mekaar se tale en dus ook vir mekaar kry. Dit vereis nuwe inisiatiewe en kreatiewe denke. Pleks van onsself te verlam deur te tob oor ons foute van die verlede kan ons die bietjie energie wat ons nog oor het, gebruik om jongmense toe te rus met vaardighede om hul plek in die nuwe Suid-Afrika vol te staan. Een hiervan is meertaligheid. Terwyl ons as Afrikaanssprekendes moet voortgaan om Afrikaans te bevorder, moet ons nie blind en onsensitief wees vir die gelykmakende rol wat Engels en veral ons inheemse tale kan speel op ’n baie ongelyke speelveld nie. Slegs dan sal ons as ’n nasie in harmonie met mekaar kan leef in hierdie mooi land.